Met die groeiende uitdaging om die lewensgehalte van pasiënte met lewensbedreigende siektes, asook hul gesinne, te verbeter, is dit nou die tyd om draf-draf (of stap-stap) geld in te samel vir die Drakenstein Palliatiewe Hospies.
Boonop is talle geldpryse op die spel wanneer die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Historium Trust, Drakenstein Palliatiewe Hospies en Paarl-atletiekklub se pretbelaaide Aandwedloop op Woensdag 13 Desember op die beeldskone Paarlberg plaasvind.
Deelnemers en ondersteuners kan soos altyd staat maak op die perfekte piekniek- en kuierplekke by die monument, waar tydelike uitstallings asook ’n avontuurlike speelterrein en buitelugspeletjies wink. Boonop kan almal hierdie ikoniese monument vir een van Afrika se jongste tale gratis verken en bewonder. Maak dit ’n heerlike aand – bring ’n piekniekmandjie (geen glas) of bestel een vooraf by die Suikerkan by 082 216 2510 (WhatsApp). Dié bistro sal ook verversings en pizza te koop aanbied.
Bring ’n kombers/kussings en onthou ook warm klere en ’n flits.
Die 10 km-Aandwedloop, wat ingevolge die reëls van Atletiek Suid-Afrika en Boland Atletiek aangebied word, begin om 18:45 en volg ’n opwindende, uitdagende roete op teer- en grondpaaie. Die gesellige 5 km-Woordloop, wat om 19:00 begin, is gemik op die hele gesin – selfs stootwaentjies is welkom! Deelnemers skryf in met ’n prettige Afrikaanse woord pleks van ’n nommer.
In albei gevalle is stappers ook welkom, dus is daar g’n verskoning om nie gesond, goed en vrygewig te voel nie.
Toegang is gratis vir ondersteuners en die draffooie is soos volg: Vir 10 km – R120 vir geregistreerde en R180 vir ongeregistreerde hardlopers voor 23:59 op 10 Desember; R130 vir geregistreerde en R190 vir ongeregistreerde hardlopers op die dag self tussen 16:00 en 18:15. Vir 5 km – R70 voor 23:59 op 10 Desember; R80 op die dag self tussen 16:00 en 18:15. Vorms vir voorafinskrywings is beskikbaar via info@topevents.co.za.
Kontak Lucky Mokwena by lmokwena@icloud.com of 084 826 5895 vir navrae oor die 10 km-Aandwedloop; vir navrae oor die 5 km-Woordloop, kontak Amila Ernstzen by 021 872 2022 of info@historium.co.za
Die meeste palliatiewe sorg in Suid-Afrika word uitsluitlik deur private instellings aangebied, en Drakenstein- Palliatiewe Hospies is in 1991 deur ’n klein groep vrywilligers gestig om hierdie gemeenskapsdiens te verrig. Hulle versorg gemiddeld 230 pasiënte met lewensbedreigende siektes in hul huise per maand en bedien die hele Drakenstein-distrik van Saron tot Simondium, insluitend al die dorpe, landelike gebiede en informele nedersettings. Hul sorgspan verseker dat pasiënte en hul gesinne van die beste gehalte palliatiewe sorg voorsien word en met waardigheid sterf. Die doel is om lyding te voorkom en te verminder deur middel van vroeë identifikasie en deeglike assessering, en deur die pyn en ander probleme wat met die siektes verband hou, op ’n fisieke, psigososiale en geestelike vlak aan te pak. . Nog inligting is beskikbaar by drakensteinhospice.org.za of 021 872 4060.




