Ervare Springbokspan aangewys vir RWC kwarteindstryd
Die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, het vir Sondagaand ‘n ervare span – insluitend 15 spelers wat in die 2019-eindstryd gespeel het – aangewys vir hul Rugby Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Frankryk in die Stade de France in Parys.
“Die meeste van hierdie spelers het Rugby Wêreldbeker-ervaring en verskeie van hulle was by die 2019-eindstryd betrokke, so hulle weet wat dit verg om in groot oomblikke te presteer,” het Nienaber gesê.
“Twintig van hierdie spelers was ook in die wedstrydgroep wat verlede seisoen teen Frankryk in Marseille gespeel het, wat ‘n goeie kleedrepetisie was vir wat ons van Frankryk en hul ondersteuners kan verwag.”
Agt van Sondag se begin-XV het vier jaar gelede in die sege van 32-12 oor Engeland begin: Siya Kolisi, wat weer die Bokke sal aanvoer, Pieter-Steph du Toit, Duane Vermeulen, Bongi Mbonambi, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Damian de Allende en Cheslin Kolbe.
Sewe ander spelers van die 2019-eindstryd is ook in die 23 in die aanvangsvoorspelers Franco Mostert en Steven Kitshoff, sowel as agterplaasvervangers Willie le Roux, Handre Pollard en Faf de Klerk, en voorspelerplaasvervangers RG Snyman en Vincent Koch.
Die enigste spelers in die groep van 23 wat nie ’n wennersmedalje het nie, is Kurt-Lee Arendse, Manie Libbok en plaasvervangers Deon Fourie en Ox Nche.
Die beginspan wys 11 speler-veranderinge aan die span wat Tonga twee weke gelede in Marseille met 49-18 verslaan het, maar, meer pertinent, net twee veranderinge van die span wat Ierland ontmoet het – met De Klerk wat na die bank skuif en Vermeulen op nr. 8 gekies, in die plek van Jasper Wiese.
Kitshoff, Mbonambi en Malherbe sal in die voorry pak, terwyl Etzebeth en Mostert op slot sal saamspan, met Kolisi, Du Toit en Vermeulen wat die lostrio vorm.
In die agterlyn sal Libbok en Cobus Reinach kragte saamsnoer in ‘n opwindende aanvallende halfagterkombinasie, met De Allende en Kriel aan diens in die middelveld, Kolbe en Arendse op die vleuels, terwyl Damian Willemse op heelagter sal wees.
Nienaber se plaasvervangersbank het vyf voorspelers en drie agterspelers. Fourie dien as impakhaker, met Nche en Koch (albei stutte), Snyman (slot) en Smith (losvoorspeler).
Die drie agterlynspelers onder die plaasvervangers is ook baie ervare, met ‘n gesamentlike totaal van 209 wedstryde tussen De Klerk, Pollard en Le Roux, wat vier jaar gelede op skrumskakel, losskakel en heelagter in Yokohama begin het.
“Ons werk sedert 2018 met die meeste van hierdie spelers en ons het ‘n groep gebou wat ons titel kan verdedig,” het Nienaber gesê.
“Ons glo hierdie groep sal ons die stukrag gee wat ons nodig het teen ’n kwaliteit Franse span wat voor ’n passievolle tuisskare sal speel.”
Nienaber het gesê hy geniet die vooruitsig om die gashere by een van die wêreld se ikoniese rugbystadions in die kwarteindstryd teë te staan.
“Dit gaan ‘n massiewe botsing vir die spelers en ondersteuners wees en ons is baie opgewonde oor die vooruitsig,” het hy gesê. “Ons werk sedert 2018 aan hierdie Wêreldbeker-toernooi en ons kan nou ‘n plek in die halfeindstryd bespreek, so ons moet daarheen gaan en alles gee.
“Dit is maak-of-breek in die toernooi, so ons moet akkuraat wees in die uitvoering van ons wedstrydplan en ons moet ons geleenthede benut, want die marges sal klein wees.
“Ons weet die wedstryd gaan so intens soos verlede jaar wees, indien nie meer intens nie. Ons het ‘n rooi kaart in daardie wedstryd gehad, maar ons het nog ‘n kans gehad om dit te wen met drie of vier minute oor, so dissipline sal weer belangrik wees en ons sal ons goeie dissiplinêre rekord moet handhaaf.”
Springbokspan teen Frankryk in Parys:
15 – Damian Willemse (DHL Stormers) – 36 pette, 56 punte (4t, 9c, 4p, 2d)
14 – Kurt-Lee Arendse (Vodacom Bulle) – 12 pette, 60 punte (12 t)
13 – Jesse Kriel (Canon Eagles) – 65 pette, 75 punte (15 t)
12 – Damian de Allende (Wild Knights) – 75 pette, 50 punte (10 t)
11 – Cheslin Kolbe (Suntory Sungoliath) – 28 pette, 86 punte (13t, 3c, 5p)
10 – Manie Libbok (DHL Stormers) – 12 pette, 80 punte (1t, 24c, 9p)
9 – Cobus Reinach (Montpellier) – 29 pette, 60 punte (12 t)
8 – Duane Vermeulen (SA Rugby) – 73 pette, 15 punte (3t)
7 – Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz) – 73 pette, 40 punte (8t)
6 – Siya Kolisi (kaptein, Racing 92) – 80 pette, 50 punte (10 t)
5 – Franco Mostert (Honda Heat) – 70 pette, 15 punte (3t)
4 – Eben Etzebeth (Hollywoodbets Sharks) – 116 pette, 25 punte (5 t)
3 – Frans Malherbe (DHL Stormers) – 66 caps, 5pts (1t)
2 – Bongi Mbonambi (Hollywoodbets Sharks) – 65 pette, 65 punte (13t)
1 – Steven Kitshoff (Ulster) – 80 pette, 10 punte (2t)
Vervangings:
16 – Deon Fourie (DHL Stormers) – 10 pette, 10 punte (2t)
17 – Ox Nche (Hollywoodbets Sharks) – 25 pette, 0 punte
18 – Vincent Koch (Hollywoodbets Sharks) – 47 caps, 0pts
19 – RG Snyman (Munster) – 31 caps, 5pts (1t)
20 – Kwagga Smith (Shizuoka Blue Revs) – 37





