Steph Scheepers (32) by haar Dakar-helikopter. Foto’s: Verskaf

Credit: SYSTEM

Steph Scheepers (32) van Wellington het vir 14 dae in die woestynlandskap van Saoedi-Arabië gewerk toe sy haar maatskappy, The Helicopter and Jet Company in Saoedi-Arabië, as vlieënier in ’n mediese helikopter by die Dakar-veldtydren verteenwoordig het.

Scheepers is oorspronklik van Patensie in die Oos-Kaap, maar woon reeds om en by twee jaar in Wellington.

Vanjaar was die derde keer dat sy by die Dakar-ren gewerk het – die tweede keer as ’n vlieënier.

Volgens dié ywerige vlieënier het haar liefde vir vlieg op hoërskool al begin toe sy by die vliegskool van ’n vriend van haar ouers ’n werk-skadu-geleentheid as ’n voorvereiste vir ’n skoolassessering bygewoon het.

“Toe ek daar uitklim [ná die werk-skadu-geleentheid], was dit ’n gevoel wat ek nie kon beskryf nie, en toe weet ek oukei, hierdie is wat ek eendag wil doen.” 

Nadat Scheepers haar hoërskoolloopbaan voltooi het, het sy by ’n vliegskool in Gqeberha aangesluit, en later in Potchefstroom se polisie-vliegspan geëindig.

Vandag werk sy by die The Helicopter and Jet Company in Saoedi-Arabië nadat haar gewese instrukteur haar ’n pos by dié maatskappy aangebied het.

Sy verduidelik dat sy agt weke diens doen en daarna vir vier weke na Wellington terugkeer.

The Helicopter and Jet Company in Saoedi-Arabië is die eerste kommersiële maatskappy wat vlugte in dié koninkryk verskaf. 

Ek is die enigste een in ons familie wat vlieg. My oupa was wel baie, baie lief vir vlieg, maar hy het ook nie self gevlieg nie. Hy het ons wel altyd met helikoptervlugte by feeste of skoue bederf […], so ek dink dit het ook dalk moontlik ’n invloed op my lewe gehad.
Steph Scheepers

“Ek is die enigste een in ons familie wat vlieg. My oupa was wel baie, baie lief vir vlieg, maar hy het ook nie self gevlieg nie. Hy het ons wel altyd met helikoptervlugte by feeste of skoue bederf […], so ek dink dit het ook dalk moontlik ’n invloed op my lewe gehad.”

Scheepers se toekomsdrome sluit in om vir eers by haar maatskappy in die Midde-Ooste aan te bly en in die Augusta 139-helikopter te vlieg nadat sy ook ’n kwalifikasie hiervoor bekom het. 

Daarna beoog sy om met humanitêre en vredesendings oor die wêreld heen te help en mense na afgeleë plekke wat net met helikopters bereikbaar is, te vervoer.

Stephani Scheepers vlieg oor die “Leë Kwart” in Saoedi-Arabië.

“Die werk by die Dakar sal ek vir seker weer wil aanpak, maar ’n hele paar vlieëniers werk in Saoedi-Arabië, dus is dit nie te sê dat ek volgende jaar definitief weer vir die span gekies sal word nie, […] maar ek glo my drie jaar ondervinding sal baie in my guns tel en hulle sal my moontlik vra om weer terug te gaan na die Dakar toe.

“Dit kan soms baie stresvol wees en redelik intensiewe vliegwerk behels, dus wil hulle mense gebruik wat al by die ren gevlieg het en wat verstaan hoe alles werk,” sê Scheepers.

“Die Dakar-ren lê my na aan die hart. Almal daar is soos een groot familie, want dieselfde mense probeer sover moontlik elke jaar terugkeer. “Dis wonderlik om deel van dié internasionale byeenkoms te kan wees,” het Scheepers vroeër aan Netwerk24 gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article