Die Paarl het nóg ’n keer model gespeel vir ’n internasionaal bekroonde televisiereeks, Catch Me A Killer, met beperkte episodes, wat tans op Showmax beskikbaar is.
Die reeks is gebaseer op Micki Pistorius se memoires met dieselfde naam.
René van Rooyen het regiepligte met Brett Michael-Innes afgewissel, en saam met internasionale sterre, soos Charlotte Hope, wat ook as Myranda op Game of Thrones gespeel het, gewerk.
Simon Howley is die vervaardiger.
Hope vertolk die rol van Micki Pistorius, ’n forensiese sielkundige wat sake teen reeksmoordenaars open en help ondersoek.
“Catch Me A Killer gaan oor Micki se ervaring om die sielkunde van reeksmoordenaars te probeer verstaan, maar dit is ook meer as dit,” het Hope in ’n persverklaring van Showmax gesê.
“Aan die een kant is dit ’n misdaadstorie: elke week is daar ’n ander episode, ’n ander reeksmoordenaar en ’n ander saak om op te los, maar dit is ook ’n karakterstudie. Sy [Micki Pistorius] is ’n vrou wat deur ’n emosionele reis gaan en deur die sielkunde van die moordenaars te verstaan, is sy ook bewus van wat sielkundig met haar gebeur.”
Ander plaaslike kunstenaars sluit in Lemogang Tsipa (Shaka iLembe), Waldemar Schultz (Die Byl), Frank Rautenbach (Lioness, Summertide), Carel Nel (Gaia), en Albert Pretorius (Spinners).
Van Rooyen het aan die Paarl Post vertel die filmspan het oral gesoek na “90’s-geïnspireerde” geboue omdat die meeste van die reeksmoordenaars, soos Stewart “Boetie Boer” Wilken, in die 1990’s aktief was.
Volgens Van Rooyen het die span wyd en syd gesoek vir sulke argitektuur, en uiteindelik die idee gekry om Lady Grey-straat te gebruik as ’n agtergrond, waar hulle ook Hule 2021 geskiet het.
Ander Paarlse agtergronde wat gebruik is, sluit in residensiële gebiede waar jakarandabome voorkom, asook Dove-begrafnisdienste in Bethelstraat.
Volgens Van Rooyen was die reeks ’n spanpoging tussen ’n oorsese vervaardiger en Showmax waarby sy deur middel van ’n aanbeveling betrokke geraak het.
Een van die vereistes was om ook internasionale akteurs soos Hope te gebruik.
“Ons het baie hard gewerk, en almal was baie professioneel en vrek nice,” het Van Rooyen gesê.
Volgens haar was dit asemrowend om “op so ’n groot vlak” met internasionale sterre te werk, waar almal hul eie woonwaens op die stel het soos by die maak van groot Hollywood-films.
Die filmspan het ook vir ’n paar tonele na Durban gereis en is toe deur ’n isiZulu-stamhoof aangehou omdat hulle na bewering “onwettig” op sy grond verfilm het.
Volgens Van Rooyen het ’n polisievoertuig hulle vergesel, maar is hulle steeds gestop, waarna hulle ’n “losprys” moes betaal.
Catch Me A Killer is vir ’n SeriesMania-prys benoem – ’n eerste vir die Suid-Afrikaanse sepie-bedryf.
Dit is ’n prysuitdelingsgeleentheid soortgelyk aan die Oscars of Bafta’s, maar vir sepies en nie rolprente nie.
Van Rooyen is oorspronklik van die Paarl en het in 2002 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle gematrikuleer.
Vandag besit sy en haar man, Corné van Rooyen, die Red Letter Day Pictures-produksiemaatskappy, wat onder meer Alles Malan, wat ook in die Paarl geskiet is, Hans steek die Rubicon oor en Toorbos vervaardig het of as regisseurs van hierdie rolprente opgetree het.
Catch Me A Killer is tans op Showmax beskikbaar en sal elke Dinsdag tot 9 April ’n nuwe episode vrystel, waarna al 10 episodes op die stroom-platform beskikbaar sal wees.





