Faith Konde (14) van Magnoliastraat in die Paarl is haar gesin asook die breër Klein Nederburg-gemeenskap se trots nadat sy by die Atletiek Suid-Afrika- kampioenskap (ASA) skoonskip gemaak het.
Sy is ’n gr. 9-leerder aan die Hoër Meisieskool Paarl, waar sy ’n sportbeurs ontvang het, nadat sy reeds tydens haar laerskooljare by William Lloyd Primêre Skool in atletiek sedert agtjarige ouderdom uitgeblink het.
Sy is in 2019 ook as die landwye 80 m-kampioen aangewys.
Faith het almal se verwagtinge by die ASA-kampioenskap in Pretoria oortref en die 100 m en 200 m in die o.16-ouderdomsgroep gewen, al is sy ’n jaar jonger.
Volgens haar is die geheim van hiérdie sukses harde werk, ’n goeie roetine en bestendigheid.
Faith oefen vier dae per week om haar atletiektalent te behou, en met die vraag of haar sportkeuse haar dalk soms uitput, het sy eenvoudig geantwoord “nee” en gesê sy pak veral die kompetisies met soveel adrenalien en opgewondenheid aan.
Sy het vertel haar familie – en vriende – is “trots” op haar en dit spoor haar liefde vir atletiek aan om elke dag te verbeter.
“ ’n Mens moet ’n liefde hê vir die sport, anders gaan jy nie sukses behaal nie.”
Dié tiener het só vinnig by die ASA-kampioenskap gehardloop dat sy ook haar wildste drome oortref en albei haar items gewen het – ’n doel waarvoor sy hard gewerk het.
Volgens Faith het sy geen onmiddellike teikens wat sy wil bereik nie, juis omdat sy skoonskip gemaak het in die ASA- kompetisie. Sy stap reeds ’n lang pad saam met haar afrigter, Jacques Botma, wat haar sedert laerskool afrig.





