Gimmies se kaptein, Kobus Blanckenberg, het ’n puik wedstryd teen Grey gehad.Foto: Louis D. van Niekerk / louis.co.za


Dis nog vroeg in die skole-rugbyseisoen, maar reeds is die tafel gedek vir wat beloof om voorts ’n reuseseisoen te wees. En weer eens val die soeklig op Paarl Gimnasium en die Hoër Jongenskool Paarl.

Die afgelope naweek was beide skole in reusebotsings betrokke.

Paarl Gim het in ’n titaniese Sportsmans Warehouse Premier Interskole-derby in die Paarl net-net met 29-27 teen Grey College vasgeval.

Die wedstryd Saterdagmiddag op die JA Kriel-veld het die gevoel van ’n toetswedstryd gehad – van die eerste fluitjie tot die laaste, toe Grey Kollege Paarl Gim se onoorwonne strook oorwinnings beëindig het.

Dit was die gashere wat as die sterkste van die twee spanne begin het. Die Gimmies het vyf minute in die eerste helfte eerste bloed geruik met sy heelagter, Freek De Kock, wat gesorg het vir ’n vroeë voorsprong van 3-0. Gim se volgehoue druk het gelei tot nog drie geleenthede pale toe in die eerste helfte, maar almal van hulle is nie-kenmerkend deur De Kock gemis, wat later by die span sou spook.

Grey Kollege se selfvertroue het gegroei namate die wedstryd gevorder het en sy eerste geleentheid om punte op die bord te kry, was in die 14de minuut. ’n Regte heen-en-weer-stryd het tussen die spanne ontstaan en die res van die helfte was ’n hardnekkige stryd met klipharde verdediging van beide spanne.

Ietwat teen die verloop van spel het die tuisspan die eerste drie van die wedstryd gedruk toe sy hardwerkende nommer agt, Quintin Potgieter, oorgedryf het van ’n goed gesette dryfmaal. Dit was slegs ’n paar minute later dat Grey sy eerste drie gaan druk het.

Met rustyd was die telbord in die Gimmies se guns met ’n voorsprong van 17-10.

Menige toeskouer het toe gedink dat hierdie die hamerhou vir Grey sou wees. Maar, soos welbekend in skolerugby, moet die manne van Bloemfontein nooit onderskat word nie.

Twee drieë in die bestek van ’n paar minute vroeg in die tweede helfte het Grey vir die eerste keer in die 47ste minuut van die wedstryd laat voorloop.

Nie lank hierna nie gaan Grey weer oor vir nog ’n drie. Met 10 minute oor het Grey ’n voorsprong van 29-17 gehad en dit het gelyk asof die wedstryd verby is.

Maar Gimmie guts het ingetree. Die groot vaskopstut, Ely Williams, het met sy span se terugvegpoging begin en straf uitgedeel in die skrums, wat Gim ’n oorhand oor Grey se voorspelerpak gegee het.

’n Tweede drie het gou van Potgieter gevolg toe momentum in die gasheer se guns teruggeswaai het. Gim was nog nie klaar nie en slim dwarsskopspel deur die losskakel Green het beteken dat Markus Moolman in die hoek kon oorduik om Gim binne twee punte van die besoekers te plaas, met 29-27 vir Grey met net meer as twee minute op die horlosie.

Maar Gim se droom-terugvegpoging was nie bedoel om te wees nie, met Grey se verdediging wat bankvas bly staan het om die stryd te wen.

Hartseer vir Paarl Gim voor sy tuisskare, maar hy sal volgende week probeer terugspring teen SACS en hom vroeg in Mei by die 2024- ABSA Wildeklawer-toernooi laat geld.


. Ander rugby-uitslae:

Paul Roos Gimnasium het sy onoorwonne status met ’n sege van 25-10 oor die Hoër Jongenskool Paarl behou. Hugenote Hoërskool het Worcester Gimnasium 31-28 geklop; Boland Landbou het Stellenberg 25-19 gewen en Labori het 13-11 teen Overberg verloor.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article