Die Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB) het die afgelope naweek tydens ’n werksessie in Wellington die belangrike rol beklemtoon van skoolbeheerliggame wat dien as ’n mondstuk vir die uitdagings wat deur skole en gemeenskappe ervaar word.

Die vereniging het ’n beroep op skoolbeheerliggame in die streek gedoen om by die NASGB betrokke te raak, wat die proses sal vergemaklik om die griewe en insette van skole in Drakenstein by die provinsiale onderwysdepartement te opper.

Só het Pieter Julies, die NASGB se provinsiale voorsitter, die naweek se aangeleentheid aan Paarl Post beskryf.

Volgens Julies was die idee agter die werksessie om seker te maak skole verstaan watter impak ’n goed funksionerende skoolbeheerliggaam op beide die skool en gemeenskappe kan hê.

“As skoolbeheerliggame hul rol en impak verstaan, dan sal daar minder dissiplinêre verhore by ’n skool wees, skole se finansies sal beter bestuur word, ons sal ons infrastruktuur beskerm. Dit is wat ons probeer kommunikeer het.”

Ons vergader minstens vier keer per jaar met die onderwysdepartement in die provinsie. Op hierdie vergadering is daar ook ander organisasies wat skole verteenwoordig, soos Fedsas. Dit is hier waar ons die probleme in ons skole bespreek.
Pieter Julies, Nasionale Vereniging van Skoolbeheerliggame (NASGB)

Hy het ’n beroep op beheerliggame gedoen om by die NASGB aan te sluit.

“Ons vergader minstens vier keer per jaar met die onderwysdepartement in die provinsie. Op hierdie vergadering is daar ook ander organisasies wat skole verteenwoordig, soos Fedsas.

“Dit is hier waar ons die probleme in ons skole bespreek.

“Dit is op vergaderings soos hierdie waar skole, deur die NASGB, hul probleme direk met die provinsie kan opper.

“Ons sal dus graag wil sien dat daar vorentoe ’n meer samewerkende verhouding tussen ons en beheerliggame in die streek kan wees, om sodoende ons skole te verbeter,” het Julies gesê.

Hy het gesê die NASGB beplan om ’n forum vir skoolbeheerliggame in elk van die munisipale gebiede op die been te bring.

“Die skole wat die werksessie bygewoon het, is baie positief. Hulle het vir my gesê hulle kan nie wag vir die volgende een nie. So daar is beslis ’n belangstelling onder skole om hierdie verder te vat,” het Julies gesê.

Volgens Julies het van die uitdagings wat skoolbeheerliggame ervaar verband gehou met aanstellings, gedragskodes en ander skoolbeleide.

Hy sê die idee is om met die volgende werksessie hierdie kwessies meer breedvoerig te bespreek.

Hy het bygevoeg een van die NASGB se volgende aangeleenthede is om ook ouers en die breër gemeenskap by skoolbeheerliggame se bestuursmodel betrokke te kry.

  • Kontak Theresa Adriaans, NASGB-sekretaresse, by 082 546 7289 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 12 March 2026
    Paarl Post – E-edition – 12 March 2026

Gift this article