Die EMMY-benoemde akteur en SAMA-benoemde musikant Neil Sandilands het in April bevestig dat hy en sy orkes (Schalk Joubert, Frank Freeman en Ronan Skillen) hierdie winter wéér ’n landswye toer onderneem.
Die toer strek oor 40 dae en 40 nagte en gehore kan uitsien na 35 vertonings in die uithoeke van ons land.
Sandilands het uit Los Angeles, waar hy deelgeneem het aan die première van Kingdom of the Planet of the Apes (10 Mei-uitreiking), laat blyk dat die Land & Sand-toer in sy land van herkoms vir hom gelyke waarde dra aan só ’n internasionale première.
Die toer, wat uitverkoopte sitplekke beloof, begin op 27 Junie by Die Ou Meulteater in die Paarl.
Sandilands bedank Hyundai Suid-Afrika, wat optree as vervoerborg van hierdie tamaaie onderneming, asook al die venues wat betrokke is. “Dit bly vir my ’n voorreg om in hierdie soetste taal te kan werk skep,” voeg hy by.
Die musikale werke kom van Sandilands se bekende albums Sangoma Sandilands & Jou Pa se Posse, Allegaarkie vir ’n Askeet, Die Groot 5, en Die Groot Niks. Daar is ook nuwe werke wat nog nooit opgeneem is nie. “Dit sal die eerste keer wees dat ek splinternuwe liedjies sing voor dit op ’n album verskyn. Dis baie opwindend!
“Dis die lekkerste ding wat jy vir jouself hierdie winter kan doen. Bederf jouself tydens ’n aand van Neil Sandilands & Die Band, dan gesels ons ‘Land & Sand’!”, sê hy. Vandaar ook die titel van die toer.
Kaartjies kos R250 per persoon en is beskikbaar by Quicket. Daar is ’n kroeg beskikbaar tydens die uitvoering. Vir navrae skakel 069 460 0687 of oumeulteater@gmail.com.





