Die familie van Riana Maritz, wat in Oktober 2018 op die ouderdom van 61 in haar huis in Pleinstraat in die Paarl dood aangetref is, sê hulle sukkel om afsluiting oor haar raaiselagtige dood te kry nadat die polisie aanvanklik ’n moorddossier geopen het, maar niemand tot dusver in hegtenis geneem is nie.
Maritz se skoondogter het op 25 Oktober op haar lyk afgekom nadat sy vir twee dae nie telefonies bereik kon word nie. Daar was volgens die familie en die polisie geen teken van inbraak of goed wat uit die huis gesteel is nie.
Die huis was egter glo vol bloed – in Maritz se slaapkamer, badkamer, kombuis en die stoep, waar haar lyk met haar kop op die grond en tussen ’n yskas en stoepbed gevind is.
Volgens kapt. Louis du Plessis, ’n woordvoerder by die Paarl-polisie, is die polisie daardie dag na Pleinstraat ontbied vir ’n dood weens natuurlike oorsake.
Die aanvanklike assessering was dat Maritz vermoedelik geval en aan haar beserings beswyk het.
Haar dood is as natuurlik geklassifiseer en haar lyk is deur ’n begrafnisonderneming van die toneel verwyder.
Volgens haar seun Thinus, wat onlangs met Paarl Post gesels het, het hy eers die volgende dag deur die huis gestap omdat hy die vorige dag nog in ’n ander provinsie was.
“Haar kamer was deurmekaar; daar was bloed op die vloer, op haar bedkassie, sigaretpakkie, daar was bebloede tissues en bloed in die badkamer, en in die kombuis was daar ook bloed.
“Toe ek die stoepbed oplig, was daar ’n breë plas bloed van een en ’n half meter. Hulle (die ondersoekbeamptes se) verduideliking daaroor ná die tyd was dat sy moontlik haar tong raakgebyt het.”
Thinus vertel dat hy dadelik kon agterkom dat “iets nie reg is nie – hoekom so baie bloed?”
Hy het die toneel toe gedokumenteer en verskeie items versamel.
Hy is die volgende dag na die polisiekantoor met die inligting en bewysstukke van die toneel en het daarop aangedring dat die omstandighede rakende haar dood ondersoek word.
“Ek het twee en ’n half uur by die polisiekantoor deurgebring en moes regverdig hoekom ek ’n ondersoek eis. Ek wou net weet wat dit was, want sy was gesond.
“Dit sou nooit na ’n moorddossier verander word as ek nie daarop aangedring het nie.”
Haar lyk is toe, ná Thinus se versoek, van die begrafnisonderneming na die plaaslike patologiese dienste oorgeplaas.
’n Reeks DNS-toetse is toe gedoen, waarvan die uitslae tot vandag toe nie beskikbaar is nie.
“Die klaer is in kennis gestel dat die ondersoek steeds oop is, hangende die DNS-uitslae, wat steeds uitstaande is,” het Du Plessis verlede week oor die saak gesê.
“Soos in alle moordondersoeke kan die saak nie gesluit word totdat alle moontlikhede ondersoek is nie.”
Thinus en sy boer, Riaan, het die afgelope bykans ses jaar baie vrae oor hoe presies hul moeder dood is en wie moontlik verantwoordelik sou kon wees.
“Hoekom eers weke ná die polisie die lykskouingsverslag ontvang het, kom doen hulle die DNS-ondersoek van die toneel?”
Die broers wil weet hoekom so gesloer word met die ondersoek, aangesien daar baie aanduidings is dat sy nie weens natuurlike oorsake dood is nie.
“Sy het waarskynlik iemand in die huis toegelaat, aangesien geen tekens van ’n inbraak aangetref is nie. Sy het dus die persoon geken,” sê Thinus.
“Die idee is nie om enigiemand uit te haal of sleg te laat lyk nie. Ek sal graag net antwoorde wil kry oor wat gebeur het.
“Indien iemand my ma vermoor het, sal ek wil weet.
“Dis moeilik om te dink dat iemand wat in my lewe is en my ma geken het, moontlik haar vermoor het.
“Sy het hulle toegelaat in haar huis.
“Ons kort net afsluiting. Ons kort net ’n antwoord sodat ons kan aanbeweeg,” sê hy.
Riaan het gesê “dit voel asof die polisie nie hulle werk reg gedoen het nie en nou sal ons nooit weet wat met my Ma gebeur het nie”.
Du Plessis het bevestig dat die ondersoek na die gebeure van Oktober 2018 voortduur en dat die “sloer” toegeskryf kan word aan die landwye agterstand in DNS-uitslae.
Maritz het vir bykans 20 jaar as ’n sekretaresse en boekhouer in die Paarl gewerk.
Sy is op 2 November 2018 ter ruste gelê.





