Anthony Cavernelis, skoolhoof van Bergrivier Sekondêr in Wellington, het verlede week ná jare se toewyding aan dié skool amptelik die tuig neergelê.
Hy beskryf homself as ’n Wellingtonner in murg en been. Die taak as skoolhoof by Bergrivier was vir Cavernelis ’n plesier, veral omdat hy self ’n leerder aan die einste skool was en in 1981 gematrikuleer het.
“Ek het aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestudeer, die B.Ekon-graad in 1984 verwerf en die Hoëronderwys-diploma in 1985. Ek het die B.Ed-graad in 1993 het deeltyds verwerf en in 1986 aan Bergrivier Sekondêr begin onderwys gee. Ek is in 1999 as departementshoof van handel aangestel en 2019 as prinsipaal. Ek het op 30 September vanjaar ná 38 jaar en nege maande se diens. Ek was dus my hele onderwysloopbaan aan Bergrivier Sekondêr verbonde.”
Volgens Cavernelis het sy liefde vir die gemeenskap en om met kinders te werk, hom tot die onderwys aangetrek.
“Vir my is onderwys ’n roeping en nie ’n gewone werk nie. Dit gaan nie oor die salaris nie, maar die bydrae wat ek kan lewer om ’n verskil in die kinders se lewe te maak.
“[As onderwyser het ek daarvan gehou] om my kennis met kinders te kon deel en om hulle vir die wêreld van werk voor te berei. Om my passie vir die onderwys met hulle te kon deel en uitleef [het my hart verbly]. Onderwys is deesdae nie vir sissies nie, maar ten spyte van vele uitdagings moet opvoeders hul beste gee en hul taak pligsgetrou doen.”
Hoewel Cavernelis aftree, sal sy nalatenskap vir jare nog in Bergrivier Sekondêr se klaskamers en gange voortleef.
Hy hoop die veranderinge wat hy by die skool aangebring het, sowel as sy liefde vir die skool, altyd deel van sy nalatenskap sal wees.
“Ek het my beste oor die jare gegee en probeer om ’n verskil te maak.”
Cavernelis sê onderrig sal hom altyd na aan die hart lê. “Dit beteken vir my baie. Ek raak baie kwaad as ek sien hoe opvoeders moedswillig afwesig is en die kinders en skool se belange nie eerste gestel word nie. By baie opvoeders gaan dit net oor hul eie belange. Vir hulle wil ek sê – los die onderwys en moenie ons kinders se skoolwerk negatief beïnvloed nie.”
Hy deel ook ’n paar wyse woorde met jong onderwysers en diegene wat daaraan dink om onderwys te gaan studeer. “Jong opvoeders moet hul selfone by die huis los en fokus op hul taak. Hulle moet probeer om ’n verskil te maak en verantwoordelikheid vir hul optrede te aanvaar.”
Cavernelis erken drie goed het hom deur die jare as onderwyser gemotiveer – “my passie vir my werk en die liefde vir kinders, sowel as die geleentheid om ’n verskil in hul lewe te kon maak”.
Hoewel Cavernelis die welverdiende rus gaan geniet, gaan hy ook nie stilsit nie. Hy beplan baie dinge wat hy wil aanpak en het ook nou meer tyd vir sy stokperdjies.
“Ek het baie dinge wat my gaan besig hou. Een van hulle is my stokperdjie vir die kweek van krisante, wat my baie besig gaan hou. Ek gaan gewis nie stilsit by die huis nie.”





