Vandag, 11 Februarie, het ons ’n merkwaardige mylpaal in ons land se geskiedenis herdenk – dit was 35 jaar sedert Nelson Mandela sy eerste tree in vryheid geneem het na 27 jaar in die gevangenis. Mandela se gevangenisskap, verdeel tussen Robbeneiland, Pollsmoor, en die Victor Verster-gevangenis (nou Drakenstein Korrektiewe Dienste), was die prys wat hy betaal het vir sy stryd teen apartheid. Vandag, meer as ’n dekade na sy afsterwe in 2013, weerklink sy boodskap van versoening en eenheid steeds deur ons nasie.
As persfotograaf vir ’n Johannesburgse dagblad in die laat tagtigerjare, was ek bevoorreg om daardie geskiedkundige oomblikke vas te vang. Ek onthou nog die oproep op 10 Februarie 1990, toe my nuusredakteur kortaf gesê het: “Nelson Mandela word môre vrygelaat.” Binne minute was ek op pad lughawe toe, wetende dat ek op die drumpel van geskiedenis staan.
Daardie warm Sondagoggend by Victor Verster het die spanning tasbaar in die lug gehang. Ons het ure lank in die brandende son gewag – ’n skare joernaliste van regoor die wêreld, elkeen vasberade om daardie eerste tree na vryheid vas te vang. Teen drie-uur die middag het die oomblik uiteindelik aangebreek: Nelson en Winnie Mandela het hand-aan-hand verskyn, hul vuiste triomfantelik in die lug.
In die jare wat gevolg het, was ek bevoorreg om Mandela gereeld te sien en te fotografeer – by sy huis in Vilakazistraat, by talle geleenthede regoor die land. Wat my altyd getref het, was sy onwrikbare toewyding aan versoening. Ten spyte van 27 jaar se ontbering, het hy gekies om nie met bitterheid nie, maar met hoop en vergifnis te lei.
My ervaringe met Madiba was altyd met ’n nederige en vriendelike man met ’n glimlag en ’n vonkel in die oog. Ten spyte van ’n permanente hewige veiligheids-teenwoordigheid om hom, het hy steeds altyd moeite gedoen om met joernaliste en fotograwe te gesels, grappies te maak en foto’s te laat neem.
Ek onthou een spesifieke voorval in KwaZulu-Natal toe Madiba teruggekeer het na die toneel waar hy destyds in 1962 in hegtenis geneem naby Howick.
Hier wou ek en nog ’n joernalis ’n paar woorde met hom spreek. Sekuriteitspersoneel het ons byna hardhandig probeer keer om naby hom te kom, waarop Madiba hulle gekeer het, na my toe beweeg, my op die naam onthou van ’n vorige kennismaking, en aan sy personeel beveel: “Laat die mooi jong dametjie toe om met my te gesels.”
Die laaste keer wat ek Mandela gesien het was in 2008, juis by die ingangshek van die tronk waaruit hy vrygelaat is. Dit was vir die onthulling van die lewensgrootte standbeeld van hom wat vandag daar pronk.
Hy was baie ouer en baie skraler as toe ek hom laas gesien het. Dit was ’n triestige dag wat die buitelug verrigtinge moeilik gemaak het.
Maar Madiba het dit al sukkelende bygewoon, knus met ’n warm kombers oor sy knieë en weereens met daardie glinster in sy oog.
Dit was vir my dus ’n verdere voorreg om 30 jaar na Madiba se vrylating aan die 27 Freedom Run by Drakenstein-gevangenis deel te neem – een kilometer vir elke jaar van sy gevangenisskap.
En deurgaans terwyl ek in die bloedige Februarie hitte gehardloop het, dink ek aan die woorde wat hy geskryf het: “Dit lyk altyd onmoontlik totdat dit gedoen is.”
Hierdie wedloop was ook vir my herinnering aan wat ons as ’n nasie kan bereik wanneer ons saamstaan. Elke kilometer-merker langs die pad vertel nie net van ’n jaar in die tronk nie, maar ook van Mandela se onwrikbare geloof in ’n beter toekoms. Wanneer my bene moeg geword het, dink ek aan sy volharding deur 27 jaar van beproewing.
Vandag, 35 jaar na sy vrylating, staan ons voor nuwe uitdagings. Maar Madiba se nalatenskap bly ’n baken van hoop.
Terwyl ons hierdie 35ste herdenking van sy vrylating vier, is dit belangrik om te onthou dat Mandela se droom vir Suid-Afrika nie net oor vryheid gegaan het nie, maar oor wat ons met daardie vryheid doen. Hy het geglo in ’n nasie waar almal saamwerk vir ’n gemeenskaplike toekoms, waar verskille oorbrug word deur begrip en dialoog.
In ’n tyd waar verdeeldheid dikwels die oorhand kry, roep Madiba se voorbeeld ons tot ‘n hoër ideaal. Sy lewe leer ons dat die moeilikste hindernisse oorkom kan word deur volharding, vergifnis, en ’n onwrikbare geloof in mekaar se menslikheid.
Terwyl ek terugkyk op daardie geskiedkundige dag in 1990, en die voorreg wat ek gehad het om Madiba se reis na vryheid te dokumenteer, besef ek dat sy nalatenskap veel meer is as net ’n historiese gebeurtenis. Dit is ’n lewende uitnodiging aan elk van ons – om die pad van versoening te stap, om brûe te bou waar daar mure is, en om nooit die krag van hoop te onderskat nie.
Soos wat ons hierdie belangrike mylpaal herdenk, laat ons Madiba se visie van ’n verenigde Suid-Afrika weer vars in ons gedagtes bring. Laat ons sy voorbeeld volg deur ons verskille opsy te sit en saam te werk aan die toekoms wat hy vir ons voorgesien het.
Want soos hy self gesê het: “As mense geleer kan word om te haat, kan hulle ook geleer word om lief te hê.”





