Laat drankwinkels in Drakenstein toe om op Sondae ook te handel, eis party in mosie

Foto ter illustrasie. Foto: Flicker/Bart Everson


Die Drakenstein- munisipale raad het ’n mosie deur die GOOD-party aangehoor waarin hy vra dat die munisipale wetgewing wat tans ’n verbod op die verkoop van alkohol by drankwinkels op Sondae en godsdienstige vakansiedae plaas, gewysig moet word.

Die mosie is verlede week op ’n raadsvergadering geopper en nou na die betrokke portefeuljekomitees vir nadere bespreking verwys.

Die Drakenstein- en Breedevallei-munisipaliteit is tans die enigste twee munisipaliteite in die onmiddellike omgewing wat ’n soortgelyke verbod op die verkoop van alkohol by drankwinkels op Sondae het.

Ingevolge die Drakenstein-alkohol-verordening word slegs gelisensieerde wynkelders toegelaat om op Sondae alkohol te verkoop wat van die perseel af weggeneem mag word.

Dit geld egter nie vir ’n drankwinkel nie en die verordening stel dit uitdruklik as volg:

’n Lisensiehouer mag drank verkoop vir verbruik buite die gelisensieerde perseel op die volgende dae en ure:

(a) op enige dag van die week, behalwe op Sondae en godsdienstige openbare vakansiedae, tensy anders aangedui in die Bylae; en

(b) gedurende die handelsure soos in die Bylae uiteengesit.

Volgens die GOOD-party is Drakenstein se verordening “verouderd” en spruit dit hoofsaaklik uit godsdienstige oortuigings.

“Baie ander munisipaliteite in ons naburige gebiede het dié wetgewing gewysig en ons glo dit is tyd dat Drakenstein dieselfde doen. Dit is ’n verouderde wet wat die onwettige handel in drank bevorder. Dit lei verder meer tot verliese in belastinginkomste en benadeel gelisensieerde ondernemings.

“Ons moet ook onthou dat nie alle inwoners van die munisipaliteit aan die Christelike geloof behoort nie, want duidelik is hierdie wet op geloofsoortuigings gebaseer.

“Ons sien uit na verdere gesprekke om ’n regverdige, gebalanseerde en ekonomies volhoubare uitkoms vir alle inwoners te verseker,” het Keagen Gertse, koukusleier van GOOD in Drakenstein, gesê.

Volgens Gertse heers “dubbele standaarde” in die wetgewing.

“Hoekom kan jy Sondae met ’n paar bottels wyn in dieselfde munisipaliteit van ’n wynplaas af stap, maar nie dieselfde by ’n wettige drankwinkel in die dorp nie? Dit het nie sin nie en is ’n aanduiding van hoe gebrekkig hierdie wet is.”

Die speaker, Koos le Roux, het by navraag gesê die mosie is verwys na die munisipale portefeuljekomitees oor beplanning- en openbare veiligheid.

  • The Drakenstein municipal council heard a motion from the GOOD party requesting an amendment to municipal legislation that currently prohibits the sale of alcohol at liquor stores on Sundays and religious holidays.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article