PAARL – Die familie van die 10-jarige Shireen Wiese van die Paarl is hoopvol dat sy sal herstel nadat sy twee beroertes gehad het.
Volgens haar ma, Shafeeka Wiese, het haar dogter verlede naweek by haar tannie gekuier toe die meisietjie Sondag (31 Mei) aanvanklik siek geword het.
“My suster het my ge-video call en gesê Shireen is siek en toe wys sy vir my hoe die kind op die grond lê en braak. Ek het gevra wat gaan aan en my suster het net gesê sy weet nie, maar “die kind het net siek geword”. Ek het vinnig opgespring en die buurman gevra om my na my suster toe te neem, wat ook in die Paarl woon. Op daai tydstip was my man nie by die huis nie, want hy het gery om iemand weg te neem.”
Alles het so vinnig gebeur, onthou Shafeeka. Toe sy en die buurman by haar suster se huis opdaag, was haar man reeds daar om die kinders op te laai, min wetend dat sy dogter siek geword het.
“Shireen was toe al reeds in ons voertuig gelaai en ek het net oorgeklim. Toe ek haar oplig, het sy weer begin braak en ons het Paarl-hospitaal toe gejaag. By die hospitaal het die dokters ons vinnig gehelp en verskeie toetse gedoen. Urine- en bloedtoetse het alles skoon teruggekom voordat sy dieselfde dag oorgeplaas is Tygerberg-hospitaal toe om ‘n skandering te laat doen.”
By Tygerberg-hospitaal het dokters ‘n skandering van Shireen se brein gedoen en verskeie ander toetse. Toetse van haar hart het ook mooi teruggekom.
“Ons is in ‘n kamer geplaas en Shireen kon nie praat nie. Sy kon net reageer op my en sê ‘ha-a’ of sy sal die ‘ha-a’ op my skree. Dan sal sy vir my haar ogie knip as ek vir haar iets vra en dan smile sy vir my. As sy iets wil hê om te eet of te drink, sal sy vir my oogknip of smile. Met dit het ek nog nie geweet Shireen het ‘n beroerte gehad nie. As sy op die bed draai, dan vat sy haar regterarm met haar linkerarm en dan bring sy dit oor. Toe vra ek vir haar of sy haar regterarm kan lig en toe gee sy my net so ‘n snaakse kyk.”
Shafeeka vertel sy het vinnig agtergekom Shireen kon nie haar regterarm en -been oplig nie. Haar dogter het ook geen reaksie gehad wanneer Shafeeka haar onder haar regtervoet kielie nie. Kort daarna het Shafeeka en haar man, Nijaaz Wiese, gehoor die dokters het vasge-stel dat Shireen ‘n beroerte gehad het.
Shireen se grootouers het haar verlede Woensdag (3 Junie) besoek, maar kort ná besoektyd, vertel Shafeeka, het sy opgelet iets is nie reg met haar dogter nie.
“Ek het vir haar gekyk en by myself gedink wat gaan dan nou aan, want sy doen dan nou niks meer nie. Ek vra toe vir haar wat aangaan en sy reageer nie op my nie. Ek het toe vir die suster gesê my kind is nie reg nie. Hulle het weer alles nagegaan en haar bloeddruk en alles was fine. Ek sê toe weer vir die suster my kind is nie reg nie en vra nog of sy nie miskien net moeg is nie.”
Die dokter is toe ontbied, vertel Shafeeka, om Shireen verder te ondersoek.
“Die dokter sê toe dit gaan gepaard met haar brein en hulle gaan nou weer ‘n scan doen. Nadat alles gedoen is en ons terug in die kamer is, lê ek met my kop op haar bed en ek vryf haar.
“Ek bid en ek vra vir Allah om vir haar gemaklik te maak vir wat sy nou deurgaan. Die dokter het toe vinnig daar ingekom en gesê hulle gaan haar vat vir ‘n noodoperasie.”
Die tweede skandering het bevestig dat Shireen nog ‘n beroerte gehad het. Volgens Shafeeka was daar drukking op Shireen se brein en dokters moes tydelik ‘n gedeelte van haar skedel verwyder om die drukking te verlig.
Shireen is sedertdien van die sterk verdowing afgehaal en haal op haar eie asem.
“Die dokter het gesê hulle doen alles wat hulle kan. Ek het vir hulle dankie gesê, maar ook bygevoeg dat alles in Allah se hande is.”
Verskeie gebedsessies is reeds vir Shireen gehou, wat gelei is deur gemeenskapslede en haar skool, Nederburg Primêr waar sy in graad 5 is.
“Daar is ook gerugte wat die ronde doen wat lui Shireen het geval. Dit is nie waar nie. Die dokters het verduidelik dat dit ‘n aar in haar brein is wat verstop is en dat sy so gebore is.”
Shireen se 11de verjaarsdag op 15 Junie.
LEES OOK: Van beroerte tot brandbestryder





