ouhou
Morné van der Westhuizen (37). Foto: Facebook

Motorfietsryer (37) sterf in ongeluk naby Franschhoek


‘n 37-jarige man van die Paarl is Woensdagmiddag (3 Junie) in ‘n noodlottige motorfietsongeluk op die R45 naby Franschhoek dood.

Die oorledene is geïdentifiseer as Morné van der Westhuizen (37), wat in die Paarl gewoon en by ‘n sekuriteitsmaatskappy in Franschhoek gewerk het.

Volgens ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het die ongeluk omstreeks 17:15 plaasgevind.

“Die Franschhoek-polisie het ‘n saak van strafbare manslag vir ondersoek geregistreer ná ‘n noodlottige ongeluk op die R45 in Franschhoek waarby ‘n motorfiets betrokke was. ‘n 37-jarige man is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar,” het Van Wyk gesê.

Die omstandighede rondom die voorval word tans ondersoek.

jkjk
Die ongelukstoneel waar Morné van der Westhuizen (37) noodlottig gewond is. Foto: Mike_Charlie_1/Facebook

Ambulansdienste, die Franschhoek-polisie, die Stellenbosch-munisipaliteit se branddienste, asook die nie-winsgewende organisasie Franschhoek First Responders, was op die toneel om hulp te verleen.

Van der Westhuizen se lewensmaat het aangedui dat sy en die familie nie in hierdie stadium gereed is om met die media oor sy afsterwe te praat nie.

LEES OOK: Polisie vra publiek se hulp ná botsing wat seun (16) eis

Intussen het medelyeboodskappe op sosiale media ingestroom nadat die nuus van sy afsterwe bekend geword het. Talle vriende, kollegas en kennisse het op Facebook hul hartseer uitgespreek en hulde aan hom gebring, met baie wat gesê het dat hulle hom gaan mis en hom as ‘n vriendelike en hulpvaardige mens sal onthou.

Enigiemand met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan bystaan, word versoek om die Franschhoek-polisie te kontak.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article