PAARL – Die soektog na ‘n vermiste man van Kuilsrivier in die Du Toitskloofberge is voorlopig Sondag (10 Mei) opgeskort weens die ongure weer, maar sal hopelik binnekort hervat word.
Michael Waltman (30) het verlede week spoorloos verdwyn nadat hy op Dinsdag 5 Mei by die Du Kloof Lodge, aan die Worcester-kant van die Hugenote-tonnel, ingeboek het.
Staptog
Michael se ma, Alex Waltman, het bevestig dat hy blykbaar ‘n oornagstaptog wou aanpak. “Ons weet nie watter roete hy wou stap nie, maar dit was vermoedelik vanaf die lodge.”
Daar is verskeie staproetes in die omgewing, vanaf die lodge, sowel as CapeNature-roetes in die Limietberg-natuurreservaat (die Elandsrivier-en die Kromrivier-staproetes) wat net ‘n paar kilometer van die lodge af is.
Alex het gesê die personeel by die lodge het die Woensdagoggend Michael se kamerdeur ongesluit gevind. Nadat daar deur die dag geen teken van hom was nie, het sy haar seun Woensdagaand as vermis by die Paarl-polisie aangemeld.
“Die polisie was Woensdagaand daar om die nabye omgewing te deursoek, maar daar was nie veel wat hulle in die nag kon doen nie.”
LEES OOK: Grootskaalse soektog na Kuilsrivier-man ná hy by Du Kloof Lodge verdwyn

Hommeltuie ingespan
Op Donderdag 7 Mei is met ‘n grootskaalse soektog in die berge begin. Vrydag het ‘n honde-eenheid en ‘n menslike spoorsnyer met die soektog kom help. Die polisie en nooddienste het ook hommeltuie ingespan en een persoon was verantwoordelik om die hele soektog te koördineer, het Alex gesê.
Afriforum het haar Sondag gekontak en aangebied om ook te kom help om met hommeltuie te soek sodra die stormweer opklaar.
Alex het haar misnoeë uitgespreek oor mense wat bespiegel en valse kommentaar op sosiale media lewer (soos dat hy gevind is).
Nadat sy verlede week by die lodge was het sy Michael se motor, wat nog daar geparkeer was, teruggebring Kuilsrivier toe.
“Ek het Maandag (11 Mei) by die lodge ingeboek en ek is bly ek het, want al die paaie is nou toe weens modderstortings,” het sy aan TygerBurger gesê.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê ‘n operasionele sentrum is (verlede week) by die lodge opgestel en verskeie polisie-eenhede het gehelp met die soektog, waaronder die Paarl-polisie se honde-eenheid. Hommeltuie van die gesondheidsdepartement is ingespan en spanne van CapeNature het ook met die soektog gehelp.
“Die hommeltuig-eenheid kon groot gedeeltes van die bergagtige terrein dek. ‘n Ontlonting-sessie is by die lodge gehou toe die soektog opgeskort moes word weens die risiko’s wat die modderige, nat terrein en volgehoue reën inhou,” het Van Wyk gesê.
LEES OOK: National state of disaster declared as severe weather claims 10 lives across South Africa



You must be logged in to post a comment.