Brandbestryders het deur die nag gespook om ’n veldbrand op die berge by Du Toitskloofpas aan die kant van die Paarl, onder beheer te bring nadat vlamme van meer as vier meter hoog deur sterk wind en droë plantegroei aangeblaas is.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste asook CapeNature is ontplooi nadat die brand uitgebreek het.
Volgens ‘n verklaring deur die KWD het brandbestrydingspanne intens gewerk om die vuurlyn aan die kant van die Paarl in te kamp. Die lyn is intussen suksesvol weg van digte plantegroei af gedryf en onder beheer gebring.
Die gevaar is egter nog nie verby nie.
Die grond en verbrande gebiede bly baie warm en met temperature van meer as 40°C wat vir vandag asook vir die res van die week voorspel word, waarsku die KWDM dat opvlammings steeds ’n groot risiko inhou.

Twee grondspanne bly op die toneel om opruimingstake te verrig en moontlike opvlammings te voorkom.
Die res van die vuurlyn brand tans in die hoër dele van die berg. Bykomende grondspanne sal ontplooi word om aan die sentrale lyn in meer toeganklike terrein te werk.
Aan die linkerflank van die brand, wat in die rigting van Worcester beweeg, brand die vuur stadig na ’n gebied wat voorheen gebrand het. Hierdie gebied kan moontlik as ’n natuurlike brandbaan dien, luidens die KWWDM se verklaring.
LEES: Brand op Paarlberg suksesvol geblus
Voertuie en watertenkers van die KWDM van beide die Worcester- en Paarl-stasies bly op die toneel en lê waterlyne teen die berghellings op om te verhoed dat die brand na die pad versprei.
Die pad is tans oop vir verkeer, maar motoriste -veral swaarvoertuie – word versoek om versigtig te bestuur en ruimte te laat vir brandbestrydingsvoertuie wat langs die pad werk.






You must be logged in to post a comment.