Die moordsaak van die 16-jarige Chanelle Plaatjies van Paarl-Oos is Maandag (9 Maart) uiteindelik oorgeplaas vanaf die Paarl-landdroshof na die Wes-Kaapse Hooggeregshof in Kaapstad.
Die tienermeisie het ‘n gru dood gesterf waarna haar liggaam in ‘n vlak graf begrawe is in ‘n bebosde gebied agter die Allandale-gevangenis. Drie mans – Keaton Johnson, Bradley Mamani en Theodore Qatha – staan tereg op aanklagte van moord met voorbedagte rade en regsverydeling.
Dit is verlede jaar aan die hof bekend gemaak dat al drie beskuldiges ‘n kriminele rekord het. Qatha (beskuldigde 1) het dwelm verwante skuldigbevindings en Mamani (beskuldigde 2) het twee afsonderlike skuldigbevindings – aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Johnson (beskuldigde 3) het tans twee sake wat in die Paarl-streekshof nog aan die gang is. Dit is ook ‘n moordsaak en ‘n vuurwapen verwante aanklagte.
Die drie beskuldiges is ook kort na hul verskyning Maandag oorgeplaas vanaf Allandale-gevangenis na Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad. Hulle sal in aanhouding bly tot hul eerste hofverskyning in die hooggeregshof op 15 Mei vanjaar vir die voorverhoor konferensie.
Johnson en Chanelle was ten tyde van haar verdwyning in ‘n kortstondige verhouding. Hy is vier maande voor Chanelle se verdwyning op borgtog vrygelaat na twee jaar in aanhouding. Johnson is op 7 Desember 2022 gearresteer vir die moord op Jaco Swartz. Volgens hofdokumente is Swartz op 23 Junie 2022 koelbloedig doodgeskiet in Willemstraat in Smartie Town, Paarl-Oos.
Maande later met sy arrestasie is Johnson ook aangekla vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen wat hy na bewering in sy besit gehad en gebruik het om Swartz mee te vermoor. Ten tyde van hierdie arrestasie was Johnson nog minderjarig en is hy na ‘n plek van veiligheid vir jeug gestuur waar hy hofafwagtend was.
Nadat Johnson in 2023 sy 18de verjaarsdag in die plek van veiligheid gevier het, is daar deur ‘n maatskaplike werker aanbeveel dat hy oorgeplaas word na die Allandale Korrektiewe Sentrum omdat hy toe as ‘n volwassene beskou is. Deur die loop van sy tyd in aanhouding het Johnson verskeie kere in die Paarl-streekshof verskyn en is sy borgaansoeke menigte male van die hand gewys. Op 22 Januarie 2025 is Johnson uiteindelik borgtog toegestaan.
Hy is vrygelaat op die voorwaardes dat hy by ‘n woonadres in Springbokstraat in Chicago, wat aan die hof verskaf is, moet woon. Hy mag ook geen direk of indirekte kontak hê met die ooggetuies in die saak en moes Maandae en Vrydae aanmeld by die Paarl-Oos polisie. Johnson is kort daarna in Februarie 2025 gearresteer vir intimidasie, maar sy borgtog is egter verleng.
Chanelle is verlede jaar in laat Mei as vermis aangekla by die Paarl-Oos polisie waarna ‘n groot skaalse soektog van stapel gestuur is. Sy is laas op 14 Mei 2025 lewend gesien deur haar familie. Baie gemeenskapslede het aangesluit by die soekgeselskap, wat tot ‘n tragiese einde gekom het op 2 Junie 2025 toe Chanelle se lewelose ontbinde liggaam gevind is.





