PAARL – Die huis waarin Nelson Mandela die laaste paar jaar sy gevangenskap uitgedien het, op die terrein van die Drakenstein-gevangenis (voorheen Victor Verster) buite die Paarl, sal in Julie vanjaar weer vir die publiek oopgestel word ná die voltooiing van die eerste fase.
Die huis was vir ‘n geruime tyd vir die publiek gesluit nadat opknappingswerk aan die museum gedoen is.
Mandela het die laaste deel van sy vonnis van 1988 tot 1990 in dié huis uitgedien voordat hy op 11 Februarie 1990 deur die destydse pres. FW de Klerk en sy kabinet vrygelaat is.
Die huis, wat beskryf word as ‘n lewende museum, omdat dit ‘n interaktiewe ervaring is wat ‘n spesifieke historiese tydperk uitbeeld om ‘n praktiese ervaring te bied, word deur Iziko Museums van Suid-Afrika bestuur.
“Hierdie projek verteenwoordig ’n radikale verskuiwing in erfenispraktyk, weg van die tradisionele ‘helde-huismuseum’ na ’n gedekoloniseerde terrein van politieke gewete. Die beelde is bekend met ’n eenvoudige sitkamer, private badkamers, ’n netjiese tuin en ’n kombuis wat ’n lewe van huishoudelike normaliteit suggereer. Vir dekades is die verhaal van Victor Verster voorgehou as een van ’n “vreedsame oorgang” – ’n stil voorspel tot bevryding. ’n Kritiese herinterpretasie van die huis onthul egter ’n meer ontstellende waarheid,” luidens ‘n verklaring deur Iziko.
Die museum was nie regtig ’n huis nie, maar ’n plek wat doelbewus ontwerp is om beheer uit te oefen, het die verklaring gesê.

Toe die apartheidsregering nie meer net op openlike onderdrukking staatgemaak het nie, het hulle ander, meer subtiele maniere gebruik om beheer te behou. By Victor Verster het dit gelyk asof Mandela gemaklik en normaal geleef het, maar hy was steeds ’n gevangene.
Die tuin, swembad en private sjef was nie bloot vriendelike gebare nie. Dit was deel van ’n plan om alles normaal te laat vertoon terwyl hy steeds onder toesig was.
Mandela self het hierdie “vergulde hok” erken in sy boek genaamd Long Walk to Freedom, en opgemerk dat die afwesigheid van tralies voor die vensters nie die teenwoordigheid van vryheid beteken het nie, maar eerder ’n meer subtiele vorm van isolasie.
“Om die gevangenishuis van Nelson Mandela te dekoloniseer, beteken om hierdie gemak te onderbreek.”
In hierdie nuwe benadering en tydens die opknappingswerk kry elke vertrek ’n nuwe betekenis, luidens die verklaring.
“Die kombuis wys hoe Mandela wel sekere dinge self kon doen, maar steeds nie regtig onafhanklik was nie, omdat die staat sy kos voorsien het. Die slaapkamers wys hoe alleen hy was en dat hy geestelik sterk moes bly. Die tuin, wat oop en vry gelyk het, was eintlik deel van ’n stelsel van toesig.”
LEES OOK: Ramaphosa unveils academy at Drakenstein prison in honour of Nelson Mandela
Paarl Post het uitgereik na Iziko Museums van Suid-Afrika vir terugvoering, onder meer om uit te vind wanneer die opknappingswerk begin het, hoe die museum verbeter word, asook hoeveel geld hieraan bestee word, en wat besoekers tydens die opening van die tweeede fase in Desember vanjaar kan verwag, maar het geen terugvoering ontvang nie.
Met pres. Cyril Ramaphosa en Gayton McKenzie (minister van sport, kuns en kultuur) se onlangse besoek aan die Drakenstein-gevangenis vir die amptelike opening van die Nelson Mandela Rules Training Academy, is die gevangenishuis van Mandela ook besoek en kon die president en McKenzie ‘n voorsmakie kry van wat op besoekers wag.





