Konstruksie
‘n Man in die Paarl word deur ondernemings in die boubedryf beskuldig dat hy masjinerie gehuur het sonder om die ondernemings daarvoor te vergoed. Illustrasiefoto: Pexles

‘n Man wat in die Paarl woon, word deur verskeie ondernemings in die boubedryf daarvan beskuldig dat hy masjinerie gehuur het sonder om die betrokke ondernemings daarvoor te vergoed.

Drie ondernemings – een in die Paarl en twee in Somerset-Wes – beweer dat Pieter Coetzee, die eienaar van die maatskappy PC Civils, hulle na bewering derduisende rande vir die huur van masjinerie skuld.

PC Civils beskryf hom as ‘n onderneming wat siviele konstruksiedienste lewer, waaronder uitgrawings- en pyplynwerk.

Vir die uitvoering van sulke projekte word swaar masjinerie, soos slootgrawers, dikwels benodig, wat gewoonlik van eksterne diensverskaffers gehuur word.

Volgens die drie ondernemings met wie Paarl Post in verbinding was, het Coetzee hulle genader om swaar masjinerie te huur, maar na bewering versuim om daarvoor te betaal.

Die drie ondernemings sê hulle is gevolglik genoodsaak om regstappe te volg en prokureurs te nader om die uitstaande bedrae te verhaal.

Die eienaar van ‘n onderneming in die Paarl wat masjinerie aan kontrakteurs verhuur, vertel dat hy reeds vroeg in 2024 deur Coetzee gekontak is vir die huur van toerusting. Volgens hom het Coetzee na bewering uitstaande skuld van sowat R300 000 vir die gebruik van dié masjinerie opgebou.

Luidens die eienaar het Coetzee later ingestem om die uitstaande bedrag af te betaal, waarna die skuld glo verminder is tot sowat R9 000. Die eienaar sê verskonings is herhaaldelik aangevoer waarom betaling nie kon plaasvind nie en dat hy uiteindelik genoodsaak is om sy prokureur te betrek.

‘n Ondernemer van Somerset- Wes vertel ‘n soortgelyke storie en beweer dat Coetzee hom steeds ongeveer R350 000 skuld vir die huur van konstruksiemasjinerie wat glo in Julie 2025 betaal moes word.

Die eienaar van hierdie onderneming is genoop om die hooggeregshof in Kaapstad te nader, waar die hof ‘n dagvaardiging teen PC Civils vir R351 244 plus rente en regskoste ingestel het.

Volgens die eienaar het Coetzee nog nie enige van die geld terug-

betaal nie en hy wag nou op ‘n hofdatum.

Hy het vertel dat die geld wat aan hom verskuldig is ‘n geweldige uitwerking op sy onderneming het. Hy moes een vragmotor verkoop en lenings aangaan om kontantvloei in sy onderneming te bewerkstellig.

‘n Ander eienaar van ‘n sakeonderneming in Somerset-Wes het aan die koerant vertel Coetzee het hom sowat R40 000 geskuld nadat hy onder meer slootgrawers in Januarie 2025 gehuur het. Van die R40 000 het

Coetzee ongeveer 30% terugbetaal, maar hy kom glo nie met die res van die geld vorendag nie.

Coetzee het by navraag gesê: “Die enigste kommentaar wat ek het, is dat ek geld uitstaande het van mense vir wie ek werk gedoen het. En dit het ‘n snowball-effek op my besigheid gehad. Voor dit het ek nog nooit probleme gehad om mense te betaal nie.”

Die koerant het na die Wes-Kaapse polisie uitgereik om vas te stel of enige klagtes teen Coetzee aangemeld is, maar kon dit nie teen druktyd bevestig nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article