‘Koop’ van spelers oortree amateurrugby-grondwet, waarsku Boland

Die Boland-rugbyunie het gewaarsku dat die kontraktering van spelers vir finansiële gewin ‘n direkte oortreding van sy grondwet is. Foto: Argief

WELLINGTON – Die Boland-rugbyunie (BRU) het beklemtoon dat die sogenaamde “koop” of kontraktering van spelers by amateurklubs ‘n direkte oortreding van sy grondwet kan wees.

Dit volg ná bewerings dat sommige klubs spelers finansieel vergoed om vir hulle uit te draf.

Volgens die unie is sy grondwet duidelik dat amateurrugby nie vir finansiële gewin gespeel mag word nie.

“Die Boland-rugbyunie-grondwet bepaal dat amateurrugby onder die jurisdiksie en reëls van die unie gespeel word en nie vir finansiële gewin mag wees nie,” het die BRU verlede week by navraag aan Paarl Post gesê.

Sosiale media het die afgelope maand gegons oor klubs wat hul nuwe spelers vir die opkomende rugbyseisoen bekendgestel het. Feitelik al dié nuwe spelers het verlede jaar vir ander klubs uitgedraf en bewerings is gemaak dat hulle geld aangebied is.

Paarl Post het ‘n kontrak onder oë gehad waarin ‘n rugbyklub in onder meer die Overberg ‘n speler ‘n toelae van R8 000 per maand aanbied.

In die kontrak word streng voorwaardes uitgelê oor die bywoning van oefeninge, die bemarking en bevordering van die klub se handelsmerk op die speler se sosiale media asook die speler se algemene gedrag.

Die unie het op sy beurt gewaarsku dat enige praktyk waar spelers “direk of indirek vergoed word” as ‘n oortreding van sy reëls beskou word en beklemtoon dat ‘n streng onderskeid tussen amateur- en professionele rugby bestaan.

“Die grondwet maak ‘n duidelike onderskeid tussen amateurrugby en professionele rugby, met laasgenoemde spesifiek omskryf as deelname vir finansiële gewin.

“Geen kontraktering of finansiële vergoeding van spelers vir deelname aan amateur-kompetisies word toegelaat nie, behalwe waar dit streng binne die reëls van amateurrugby val.”

Wat die kwessie van ondersteuning aan spelers betref, sê die BRU dat sekere vorme van hulp wel oorweeg kan word, mits dit nie die beginsels van amateurrugby ondermyn nie.

“Ondersteuning wat nie die amateurstatus van die speler ondermyn nie en nie finansiële gewin behels nie, kan oorweeg word binne die oogmerke van die unie om rugby te bevorder.

“Waar sodanige ondersteuning neerkom op ‘n voordeel wat prestasie of lojaliteit beïnvloed, sal dit as ‘n oortreding van die reëls beskou word,” sê die unie.

Volgens die unie het sy uitvoerende komitee die mag om streng op te tree.

“Tugstappe kan ingestel word teen enige klub of mens wat die grondwet of reëls oortree, insluitend skorsing of verwydering van lidmaatskap,” lui die reaksie.

Volgens die unie bestaan tug- en appèlkomitees om sodanige klagtes te ondersoek.

Hy wou egter nie sê of enige klubs tans weens die beweerde oortreding van dié afdeling in die grondwet ondersoek word nie.

“Geen besonderhede word openbaar gemaak voordat prosesse behoorlik en finaal afgehandel is nie, in ooreenstemming met goeie korporatiewe bestuur.”

Hoewel die unie erken dat rugby binne ‘n uitdagende sosio-ekonomiese konteks gespeel word, sê dit dié realiteite kan nie as regverdiging dien vir die ondermyning van die sport se beginsels nie.

LEES OOK: Wedstrydknoeiery: Só reageer Boland

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article