Inwoners ontstoke oor Paarlse nutsman; betalings gemaak, g’n werk gelewer

Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash
Foto ter illustrasie. Foto: Unsplash

‘n Paarlse nutsman, wat al voorheen in die hof was weens vermeende onvoltooide werk waarvoor hy die geld moes terugbetaal, is nou weer in die sop nadat ‘n bejaarde egpaar van New Orleans hom R13 000 vir ‘n projek betaal het en die werk nooit gelewer is nie.

Giovanni Joseph, die eienaar van die maatskappy Pallets by Design, gee glo sedert einde 2024 vir August Adams en sy vrou slapelose nagte nadat Joseph onder-neem het om ‘n Nutec-projek by hul woning in New Orleans te behartig.

Adams het vandeesweek aan Paarl Post vertel dat hy beïndruk was met die werk wat Joseph by sy buurman gedoen het.

“Ek het hom toe ook genader en vir ‘n kwotasie gevra. Die man het agtermekaar geklink en omdat my buurman van sy dienste gebruik gemaak het, het ons hom dus ook vertrou.”

Volgens Adams het hy Joseph altesaam R13 000 betaal, waarvan R3 000 alleen aan teëls bestee sou word.

“Daarna was dit verskonings en belofte ná belofte,” vertel Adams.

Joseph het glo vir Adams gesê dat dié teëls by ‘n hardewarewinkel in die Paarl op promosie was.

Volgens hom het Joseph egter nooit sover gekom om die beloofde werk te lewer nie.

“Elke keer as ons hom sou bel, dan het hy belowe die materiaal is bestel en dit sou by ons huis afgelewer word. Hy het selfs opgevolg om te hoor of die materiaal al afgelaai is.

“Ons wag nog tot vandag toe nog daarvoor,” sê Adams.

Volgens Adams vermoed hy Joseph het nooit die materiaal gekoop nie en die R13 000 gebruik om ander werk te doen.

Hy sê toe hy uitvind dat sy buurman Joseph glo weens onvoltooide en swak werk in die pad gesteek het, het hy besef hy sal dringend moet optree as hy ooit sy geld wil terugkry.

Adams het toe die plaaslike balju en die Paarl-landdroshof genader en ná meer as ‘n jaar kon hy Joseph kry om R3 000 aan hom terug te betaal.

“Met een van die hofverskynings het die landdros hom streng aangespreek. Die landdros wou weet hoekom hy so iets aan bejaardes en pensioentrekkers doen.

” ‘Ek is dubbel sy ouderdom en kon sy pa gewees het,’ was die landdros se woorde,” sê Adams.

Hy sê ten spyte van die hof se beslissing dat Joseph maandeliks minstens R1 000 moet terugbetaal, is dit steeds ‘n gesukkel om die geld terug te kry.

Joseph het op sy beurt by navraag aan Paarl Post gesê hy was gereed om voort te gaan met die werk by Adams se woning en dat hy onkant betrap is toe Adams skielik nie meer van sy dienste gebruik wou maak nie.

“Ek was so te sê 90% klaar met die projek by sy buurman se huis toe ek hoor dat hy nie meer met my dienste wil voortgaan nie. In daardie stadium het ek reeds materiaal gekoop en volgens die mates begin sny.

“Omdat die geld reeds aan die materiaal bestee is, was dit natuurlik ‘n uitdaging om hom onmiddellik terug te betaal. Ek kan wel bevestig dat drie paaiemente van altesaam R3 000 reeds terugbetaal is en dat die bewys daarvan met mnr. Adams gedeel is,” sê Joseph.

Adams hou vol dat Joseph gesloer het en nooit enige materiaal gekoop het nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article