Konstruksieaktiwiteite op die Du Toitskloofpas is die afgelope Dinsdag (2 Desember) vir ’n kort rukkie ontwrig toe ’n groep werknemers van Entsha AOT, ’n subkontrakteur wat verantwoordelik is vir opgraderingswerk aan die pas, oor beweerde loongeskille betoog het.
Die groep tydelike werkers het op ’n gedeelte van die pas – oorkant DVine Estate in die Paarl – probeer om die pad te versper deur onder meer boomstompe daarop te plaas. Dit is egter vinnig verwyder nadat nooddienste, insluitend die polisie en wetstoepassers, op die toneel opgedaag het.
Volgens een van die werkers is die groep – wat hul betaling deur Entsha AOT ontvang – veronderstel om teen die 30ste van elke maand betaal te word, maar die bedrag word volgens hulle “nooit” betyds uitbetaal nie.

’n Bestuurslid van Entsha AOT het die klagte as ’n “klug” afgemaak. Dié lid het verduidelik dat die kontrak, wat Paarl Post onder oë gehad het, bepaal dat werknemers teen die 7de van elke maand betaal moet word – iets wat, volgens Entsha AOT, wel nagekom word.
Die bestuurslid, wat verkies om anoniem te bly, het verder bevestig dat die tydelike werknemers ’n kontrak van agt maande onderteken het.
LEES OOK: Du Toitskloof Pass to reopen in November
Jandré Bakker, die direkteur van operasionele ondersteuning by die departement van infrastruktuur (DOI), het benadruk dat die departement nie betrokke raak by “geskille of aangeleenthede tussen kontrakteurs en subkontrakteurs, of tussen kontrakteurs (hetsy hoof- of subkontrakteurs) en werknemers” nie.
Hy het bygevoeg dat die DOI bewus is van ’n voorval wat konstruksiewerk vir ’n kort tydjie onderbreek het, maar dat die situasie intussen opgelos is en werk sonder verdere ontwrigting voortgaan.
Volgens Bakker het die projek in Januarie 2025 begin en bly dit op skedule om teen die konstruksiebedryfpouse van Desember 2025 voltooi te wees.
Die vroeë deel van volgende jaar sal gebruik word om, indien nodig, enige oorblywende probleme aan te durf.





