Minstens 15 leerlinge beseer toe minibus in die Paarl omslaan

Die ongelukstoneel op die Sonstraalpad in die Paarl Maandagoggend (17 November). Foto: Drakenstein-munisipaliteit
Die ongelukstoneel op die Sonstraalpad in die Paarl Maandagoggend (17 November). Foto: Drakenstein-munisipaliteit

PAARL – Die Paarl-Oos-polisie sê hy ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur nadat ‘n minibus-taxi wat skoliere vervoer, Maandag (17 November) in ‘n ongeluk op die Sonstraalpad betrokke was.

Volgens kapt. FC van Wyk, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het die ongeluk omstreeks 07:30 plaasgevind.

“Die omstandighede rondom die ongeluk is in die stadium nog onduidelik. Verskeie nooddienste is na die toneel uitgeroep.

“Die Paarl-Oos-polisie het ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen,” het Van Wyk by navraag aan Paarl Post gesê.

Die Drakenstein-munisipaliteit, wat sy brand- en verkeersdienste na die ongelukstoneel ontplooi het, het in ‘n verklaring bevestig dat die bussie na die New Orleans Sekondêre Skool in Paarl-Oos onderweg was.

Die minibus-taxi het skoliere na die New Orleans Sekondêre Skool vervoer.
Die minibus-taxi het skoliere na die New Orleans Sekondêre Skool vervoer. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

“Drakenstein-munisipaliteit se afdeling vir openbare veiligheid het onmiddellik op die toneel gereageer.

“Ongelukkig het twee leerders ernstige beserings opgedoen, terwyl ses leerders lig beseer is.

“Hoewel die bestuurder en die ander ses leerders ongedeerd gelyk het, is hulle almal per ambulans na die hospitaal vervoer.

“Ons dink aan die leerders, hul families en almal wat deur hierdie voorval geraak is,” lui die verklaring.

Volgens Daan van Leeuwen Boomkamp, stigter van die Drakenstein-plaaswag (DFW), het drie DFW-lede, wat ook as lede van die Wes-Kaapse noodhulpdiensstelsel (Efar) opgelei is, by die ongelukstoneel uitgehelp waar die skoolleerders gestabiliseer is.

Volgens hom, het hy en die ander Efar-lede, beserings wat insluit snye op die skooliere se arms en bene, behandel, askook verskeie kopbeserings.

Die noodoproep na die DFW het om ongeveer 07:45 ingekom.

LEES OOK: Jong man van Stellenbosch sterf in ongeluk naby Klapmuts

Van Leeuwen Boomkamp het verduidelik dat die bussie glo ’n ander voertuig wat voor die bussie gery het probeer verbysteek het, toe die minibus-taxi se wiel gruis getref het wat uiteindelik daartoe gelei het dat die voertuig gerol het.

Volgens Carlyn Oppelt, waarnemende skoolhoof by New Orleans was die skoolleerders in graad agt tot 11 en het hulle almal ligte tot ernstige beserings opgedoen.

Daar was geen matriekleerlinge in die taxi nie, het Oppelt bevestig, maar volgens haar was daar wel ‘n gr.R-leerder van die Charleston Hill Primêre Skool in die taxi.

Die leerders is tans almal in die hospitaal opgeneem.

Volgens die munisipaliteit is die wrak van die minibus-taxi intussen verwyder en die pad is weer oop vir verkeer.

Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het die insident bevestig.

“Al die leerders is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir behandeling, en drie het ernstige beserings opgedoen. Beradingsondersteuning is deur die distrik verskaf,” het Merton gesê.


Hierdie berig is aangepas van die oorspronklike weergawe wat aanlyn gepubliseer is namate inligting bygekom het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article