Hugenote-tonnel gesluit weens ‘strukturele skade’ ná bus in nagtelike ure brand

Die ongelukstoneel Vrydagaand. Foto: Drakenstein-munisipaliteit
The accident scene on Friday night. Photo: Drakenstein Municipality

Die Hugenote-tonnel tussen die Paarl en Worcester is tot verdere kennisgewing gesluit nadat ‘n bus omstreeks 23:00 Vrydagaand (3 Oktober) binne die tonnel in vlamme verswelg is.

Luidens ‘n verklaring deur die Breedevallei-munisipaliteit het die tonnel “strukturele skade” opgedoen en sal gesluit bly totdat herstelwerk voltooi is.

“Die ongelukstoneel is opgeruim maar die tonnel het strukturele skade opgedoen. Dit sal die hele dag gesluit bly totdat ‘n volledige assessering voltooi is,” het die Breedevallei-munisipaliteit gesê.

Die verkeer word Saterdagoggend op die N1-snelweg in die Paarl herlei. Foto: Rasaad Adams
Die verkeer word Saterdagoggend op die N1-snelweg in die Paarl herlei. Foto: Rasaad Adams

Motoriste is daaraan herinner dat die Du Toitskloofpas, wat sou dien as die naaste alternatiewe roete, steeds gesluit is weens padwerke.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit, wie se branddienste na die toneel uitgeroep is, het die bus glo ‘n elektriese fout ervaar.

“Alle passasiers is veilig ontruim. Een pasiënt het geringe beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem. Geen verdere beserings is aangemeld nie,” lui Drakenstein se verklaring.

Provinsiale verkeersdienste en polisie was Saterdagoggend by die Hugenote-tolhek waar verkeer herlei word.

Die Hugenote-tolhek is Saterdagoggend gesluit weens skade aan die tonnel. Foto: Rasaad Adams
Die Hugenote-tolhek is Saterdagoggend gesluit weens skade aan die tonnel. Foto: Rasaad Adams

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article