‘n Paarlse sakeman het ‘n verlies van sowat R300 000 gely toe drie inbrekers sy onderneming in Drommedarisstraat verlede Maandagnag (15 September) feitlik “leeg gedra” het.
Jeremy Arries, die eienaar van Silver Solutions, sê hy vind dit baie vreemd dat sy onderneming – met sigbare kameras en ‘n kennisgewing van sy veiligheidsmaatskappy by die ingang – geteiken is.
“Die onderneming direk langs ons het geen kameras nie. Ons sukkel dus om te verstaan hoekom hierdie ouens by ons ingebreek het,” sê hy.
Volgens Arries het die inbrekers kort voor eenuur die oggend toegang tot die perseel verkry.
Kringtelevisie-beeldmateriaal wys hoe dié drie die veiligheids- hek en deur in Drommedarisstraat oopbreek.
Volgens Arries het die inbrekers sowat ‘n uur en ‘n half in die onderneming deurgebring.
“Hulle het my sommer be- hoorlik besteel. Hulle het hul tyd gevat en die plek leeg gedra.
“Een van hulle het kort-kort by die deur wag gehou. Alles is by die voordeur uitgedra en vermoedelik iewers langs die treinspoor gaan stoor,” sê hy.

Altesaam 20 grassnyers is onder die tientalle items wat gesteel is.
Die drie inbrekers het kruiwaens gebruik om die goedere na die ander kant van die pad, waar die treinspoor is, te neem, vertel Arries.
Volgens hom beloop die skade sowat R300 000.
Hy sê ondersoek moet ook nou ingestel word oor hoekom die alarm nie by die veiligheidsmaatskappy afgegaan het nie.
Gesprekke is reeds met die versekeringsmaatskappy begin voer, vertel hy.
“Ons begin al klaar die nagevolge voel. Ons moes vroeg verlede week toerusting huur vir werk in Hermanus.”
Arries sê hy doen ook sy eie private speurwerk om die verdagtes op te spoor en sal die inligting met die polisie deel.
Volgens hom het die speur-ders tydens hul besoek ‘n vingerafdruk opgespoor.
Hy sê niemand is egter tot dusver aangekeer nie.
Navraag oor die inbraak is aan die Paarl-polisie gerig, maar geen terugvoering is teen druktyd ontvang nie.

Paarl Post het in Junie verlede jaar oor Arries se sukses as sakeman geskryf.
Hy was maar 13 jaar oud toe hy van sy ouerhuis af weggeloop het om aan ‘n lewe van bende- geweld en dwelmmisbruik te ontsnap en het toe op straat beland.
Vandag is hy ‘n suksesvolle entrepreneur, wat jaarliks meer as 200 deeltydse werksgeleenthede skep. Hy het Silver Solutions, ‘n siviele-ingenieurs-maatskappy wat dienste tot so ver as George lewer, in 2010 op die been gebring.
Silver Solutions spesialiseer in omgewingsdienste soos die afkap en snoei van bome, houtversnippering, onkruiddoders, vervoer en toerustingverhuring en ‘n aantal dienste in die siviele ingenieurswese.






You must be logged in to post a comment.