Niks is te moeilik nie.
Dít was die afgelope Saterdag meer as net ‘n leuse vir die Paulus Joubert Sekondêre Skool maar ook die motivering wat die afrigters van die o.19A-rugbyspan die seuns gegee het toe die span teen die Klein Nederburg Sekondêre Skool teen rustyd nog geen punte aangeteken het nie.
Paulus Joubert het eers met 54 minute al verstreke sy eerste drie gaan druk en uiteindelik die span van Klein Nederburg met 31-10 getroef om as vanjaar se Sanlam-Drakenstein-Skole-derbykampioenskapwenner gekroon te word.
Dit was ‘n indrukwekende spel deur die span van Paulus Joubert, wat die meeste van hul punte in die laaste 20 minute van die wedstryd aangeteken het.
Die span van Klein Nederburg, onder kapteinskap van Maahir Slamdien, het duidelik die druk begin voel en met meer intensiteit begin speel, maar dit was nie genoeg om die “Blou Masjien” te stop nie.
Klein Nederburg se moraal het heeltemal afgeneem ná ‘n strafskop in die 65ste minuut, wat die telling op 31-10 te staan gebring het.
Van daar af het Paulus Joubert sterk verdedig.
Dié span se Keanan Fortuin is as Speler van die Wedstryd asook Beste agterspeler van die Toernooi aangewys.

Dit was die tweede jaar dat hierdie kampioenskap aangebied is.
Die altesaam agt skole wat jaarliks in hul eie derby’s meeding, speel vir ‘n plek in die beker- en skild-afdelings.
Klein Nederburg en Paulus Joubert het verlede jaar ook tot die eindronde deurgedring. Klein Nederburg het toe met die beker weggestap.
Die Hoërskool Noorder Paarl het vanjaar in die skild-afdeling gewen toe hy New Orleans 17-14 geklop het.
Athol Ontong, ‘n opvoeder by Paulus Joubert en wat deel van die aftrigterspan is, het ná die eindstryd gesê sy skool se oorwinning skep hoop in die gemeenskap.
“Ons wil graag ons spelers bemagtig sodat hulle kan uitstyg. Ons het byvoorbeeld Springbok-spelers, soos Kurt-Lee Arendse, wat sukses behaal het en nou kom terugploeg in die skool.
“Daar is soveel talent en dit het in die tweede helfte na vore gekom. Ons skool se leuse – Niks is te moeilik – het hulle [die spelers] vandag uitgeleef.
“Jy kon nou ná die wedstryd al die gelukkige gesigte sien. Vir ‘n oomblik kon hulle uit hul gemeenskappe beweeg en net ‘n bietjie lag en bly wees. Dít is wat rugby vir ons beteken,” het Ontong gesê.
Sanlam beplan om in die toekoms soortgelyke toernooie in ander munisipaliteite tot so ver as George te begin.
Die toernooi is ‘n nuwe toevoeging en hoogtepunt op Drakenstein se skolesport-kalender.
“Hierdie toernooi bied aan skole en spelers nog ‘n geleent- heid op die sport-kalender om hul talent ten toon te stel.
“Sanlam, Vuma, Santam en Rainbow Chicken is die borge en elke skool kry ‘n regsfooi.
“Geld wat uit die kompetisie gemaak word, gaan aan die skole. Elke skool het 500 kaartjies gekry om te verkoop en die wins gaan dan direk na die skole toe.
“Hekinkomste word ná aftrekkings ook gelykop verdeel,” het Lucian Cupido, die organiseer-
der van die toernooi, verduidelik.
Drakenstein se agt skole wat tans aan die toernooi deelneem, sluit in die sekondêre skole Paulus Joubert, Klein Nederburg, Charleston, New Orleans, Bergrivier en Weltevrede, asook die hoërskole Wellington en Noorder Paarl.






You must be logged in to post a comment.