Jacques Carstens (70). Foto: Verskaf

Jacques Carstens (70), een van die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se voormalige finansiële hoofde (CFO) asook ‘n geliefde Paarliet – veral op die rolbalbaan en op fietsryroetes – is op 22 Augustus oorlede ná ‘n kort maagkankerstryd nadat hy in 2016 ‘n leweroorplanting ondergaan het.

Volgens Jaco Carstens, Jacques se seun, was sy pa oorspronklik van Worcester, maar het hy die laaste 12 jaar in die Paarl gewoon.

Hier het hy volgens ‘n verklaring deur die munisipaliteit onder meer van 2012 tot sy aftrede in 2020 die pos as die DM se uitvoerende direkteur van finansies en later as finansiële hoof beklee, volgens ‘n verklaring deur die munisipaliteit.

Jacques laat drie kinders – Francois Carstens, Jacques en Annerie van Deventer – asook sy vrou, Elsa Carstens, en ses kleinkinders agter.

Jaco het verduidelik dat sy pa in 2016 ‘n leweroorplanting moes ondergaan weens ‘n Alfa-1-antitripsien-tekort wat gewoonlik skade aan die longe of lewer veroorsaak. In Jacques se geval het hy lewersirrose ondervind en is daarna ná ongeveer twee jaar op ‘n waglys vir ‘n oorplanting goedgekeur.

Die Carstens-familie wil graag die Donald Gordon Medical Centre verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand bedank vir hierdie suksesvolle oorplanting wat hul geliefde pa ” ‘n tweede kans op die lewe [gegee het] en nege volle en gesonde jare wat ons [die Carstens-familie] nie andersins sou gehad het nie”.

In hierdie nege jaar het Jacques voluit geleef en onder meer ‘n silwermedalje vir rolbal by die 24ste Wêreldoorplantingspele in Perth in Australië in 2023 gewen.

Jacques Carstens (70), saam met van sy vrou en kleinkinders. Van links is Jacques Carstens, Daniël Carstens, Alex Carstens, Elsa Carstens (Jacques se vrou), op haar skoot Lia van Deventer en Luka Carstens. Voor is JD Carstens en Shani Carstens. Foto: Verskaf

As dit nie vir sy kankerdiagnoses was nie, was hy weer op pad na die Wêreldoorplantingspele in Dresden in Duitsland in Augustus 2025 vir fietsry. Volgens Jaco het sy pa vanjaar beplan om ’n ander sportsoort tydens die spele te beoefen en hy het pligsgetrou vir ’n jaar geoefen ter voorbereiding op die 2025-oorplantingspele.

Volgens Jaco het sy pa in April vanjaar erge maagpyn ervaar, waarna hy ‘n noodoperasie by Mediclinic Paarl ondergaan het. Tydens dié operasie het dit aan die lig gekom dat kanker om sy dunderm gevorm het, waarna die medici ‘n omleiding verby die deel om die dunderm waar die kanker gegroei het, moes doen.

Die familie is ná die operasie meegedeel dat Jacques fase-vier-maagkanker het en dat die dokters niks meer vir hom kan doen nie.

Die familie bedank egter die hospitaal vir hul professionaliteit.

Dié geliefde gesinsman het sy laaste asem nou, sowat vier maande later, by Dochas@Home, waar hy twee dae voor sy dood versorg is, uitgeblaas.

Die familie wil ook die Paarl-hospies bedank, wat Jacques pligsgetrou tuis versorg het.

Sy begrafnisdiens was die afgelope Vrydag (29 Augustus) by die AGS-kerk in Hoofstraat.

Volgens Jaco was sy pa “nie die maklikste mens nie,” maar “sy woord was sy eer”.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article