Die promotor Wynand de Villiers van die Paarl, wat die Ikoon-konsertreeks reël, is die afgelope weke in die middel van groot omstredenheid gewikkel ná berigte oor wanbetaling, ’n hofgeding en kunstenaars wat hul deelname onttrek. De Villiers het egter aan die Paarl Post gesê hy het niks om weg te steek nie.
Theuns Jordaan-huldeblykkonsert
De Villiers se omstredenheid spruit eerstens uit die Theuns Jordaan-huldeblykkonsert, wat sowat drie weke gelede in Amsterdam in Nederland plaasgevind het en waar verskeie kunstenaars en tegnici beweer het hulle het nie hul laaste fooie vir die optrede ontvang nie.
Daar was selfs op die vooraand van die konsert sprake van kansellasie omdat selfs die orkes geweier het om sonder betaling op te tree. Van hierdie kunstenaars sluit in onder andere Kurt Darren, Ray Dylan en Bok van Blerk. Sunette Bridges, dogter van Bles Bridges het egter die vertoning gered deur sowat R200 000 aan kunstenaars uit haar eie sak te betaal, het Rapport berig.
Die bekende promotor het oor hierdie beweringe aan die Paarl Post gesê dat daar ’n “kontantvloei”-probleem was en hy kon dus nie betalings doen nie.
Volgens hom het sy maatskappy ongeveer R5 miljoen aan die konsert bestee en ‘n verlies van R2,5 miljoen gely.
Hy het ook gesê dat dit hier is waar hy en Darren in ’n stryery betrokke geraak het omdat hy ongeveer R92 000 in betaling wou ontvang vir slegs drie liedjies wat hy tydens die konsert gesing het. De Villiers het verduidelik dat dit hul verhouding versuur het en aanleiding gegee het tot die Kurt Darren Ikoon-konsert wat nou gekansalleer is. Hy het aangevoer dat hierdie optrede gierig was.
Darren het hierdie bewerings aan IOL ontken en De Villiers se beweringe as “beledigend en onopreg” bestempel. Hy sê voorstelle van buitensporige betaling is ’n verdraaiing, aangesien die fooi ’n week se afwesigheid van sy gesin, uitgebreide repetisies, die vertoning self en voldoening aan Suid-Afrikaanse BTW-verpligtinge ingesluit het.
Likwidasie
Ná die konsert is ’n likwidasiebevel, wat op 22 Augustus in die Kaapse hooggeregshof ook teen De Villiers se maatskappy, De Villiers National Cycling (Edms.) Bpk. (wat ook as Cool Concerts bekend staan) bekragtig. Dit is deur Murray Lubbe, die eienaar van Hit Factory, ’n produksiemaatskappy, aanhangig gemaak.
De Villiers skuld Hit Factory glo R2 036 527,76 vir die tegniese produksie van verskeie konserte en De Villiers National Cycling is verlede week voorlopig gelikwideer weens die skuld, het Die Burger berig.
Volgens De Villiers aanvaar hy hierdie likwidasie en gaan hy dit nie betwis nie.
Hy het ook gesê hy “gaan nie staan vir die [vermaak]industrie wat net doen wat hulle wil nie”. Volgens hom het Hit Factory hom “oorgefaktureer” vir hul dienste en het hy besluit om nie daardie bedrae te betaal nie. De Villiers wou egter nie verder uitbrei oor watter fakture gestuur is wat hy as foutiewelik beskryf nie.
Kurt Darren Ikoon-konsert
Die Heuwels Fantasties en Refentse het toe ook stelselmatig hul deelname aan die Kurt Darren Ikoon-konsert, wat in Maart 2026 in Pretoria gehou sou word, onttrek.
De Villiers het intussen aan die koerant bevestig dat die vertoning gekansalleer is nadat Darren glo reeds drie weke gelede aan die konsert onttrek het.

Volgens Darren se kantoor het “De Villiers e-posse na kunstenaars gestuur” om die [Kurt Darren Ikoon-konsert] te kanselleer en deposito’s terug te vra – dit alles terwyl kaartjieverkope vir die Ikoon-konsert nog oop was. “Daardie blatante misleiding aan die publiek gaan geen kunstenaar duld nie.
Die kaartjiegeld is – in de Villiers se eie woorde – “in ’n trust waaraan ek nie kan raak nie, dus kan geen ander promotor aan daardie vertoning raak nie.”
Darren het aan Rapport gesê dat De Villiers hom net voor die eerste Steve Hofmeyr Ikoon-konsert in Pretoria in Maart vanjaar genader het met die voorstel om ook vir Kurt ’n Ikoon-konsert te hou, en hy het ingestem. Hy het van dag een af vir De Villiers gevra om ’n kontrak op te stel om dié ooreenkoms vas te maak, maar die promotor het nooit daarmee vorendag gekom nie.
“Elke keer dat ek hom gevra het wat is ons deal met die show, sê hy nee, ons sal praat daaroor – nie een keer nie; ’n héle paar keer.”
Dit, asook die likwidasie en die gebeure by Theuns Jordaan se huldeblyk-konsert, het Darren dus genoop om kop uit te trek.
Steve Hofmeyer Ikoon-konsert
Volgens De Villiers gaan die Steve Hofmeyr Ikoon-konsert op 26 Oktober in die DHL-stadion in Kaapstad egter voort met ongeveer 5 000 kaartjies wat reeds verkoop is en gaan die likwidasiebevel teen De Villiers National Cycling nie dié konsert belemmer nie omdat die konsert nie uit hierdie gelikwideerde maatskappy gefinansier word nie.
Hofmeyr het op Facebook geskryf dat hy wel sal optree. “Ek sal daar wees, al daag ek alleen op. Onthou my woorde. Maar, ek gaan nie alleen wees nie. 5 000 kaartjies is reeds verkoop en my gaskunstenaarsis almal gewillig om in te klim.”

Gaskunstenaars wat ook by hierdie vertoning sal optree, sluit in Nadine, Bobby van Jaarsveld, Gert Steyn en Armand (Steve se seun).
Hierdie konsert is oorspronklik vir Maart vanjaar geskeduleer, maar is weens te min kaartjieverkope tot Oktober uitgestel.
Volgens De Villiers was dit die laaste konsert waaraan hy sy naam sal verbind ná bykans drie jaar in die vermaaklikheidsbedryf. Hy beplan om hom voortaan op ander sakeprojekte toe te spits. Intussen is hy reeds ongeveer 24 jaar lank ’n bekende figuur in die Suid-Afrikaanse fietsrygemeenskap.
Voglens hom was sy betrokkendheid by die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf nooit geldgedrewe nie, maar meer ’n stokperdjie omdat hy die land se musiek as belangrik ag.





