Die Boland Atletiek-federasie het ‘n vennootskap tussen die Drakenstein-munisipaliteit en sy onderskeie sportkodes verwelkom. Dit sal as ‘n platform dien om die stand van munisipale sportgeriewe aan die klok te hang.
Dié inisiatief sal tot ‘n groot belegging in die opknapping en gereelde instandhouding van onder meer die Dal Josafat- en Faurestraat-stadions lei.
Hierdie inisiatief is veral vir Boland Atletiek van kardinale belang omdat daar onbevestigde sprake is dat die Faurestraat-stadion moontlik met ‘n grasbaan vir atletiek toegerus gaan word.
Die Drakenstein-munisipaliteit het na afloop van ‘n vergadering op 14 Augustus met die sportkodes en ander belanghebbendes in ‘n verklaring gesê dat [in beginsel] besluit is dat die Faurestraat-stadion voortaan in openbare besit sal bly.
“Infrastruktuur-opgraderings sal in die komende jare plaasvind. Hierdie opgraderings sal nie net tot die Faurestraat-stadion beperk wees nie, maar ook na De Kraal en die Dal Josafat-stadion in die Paarl en ander munisipale sportgeriewe uitgebrei word.
“Die plaaslike gemeenskapsradiostasie KC 107.7 het die rugby-, fietsry- en atletiek-sportkodes, asook skole en erfenis-voorstanders, gekoördineer om met die munisipale leierskap te vergader. Die vergadering is deur dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, gelei,” het die munisipaliteit in die verklaring gesê.
Mike Fraser, die hoof van Boland Atletiek, het vandeesweek aan Paarl Post gesê “hierdie platform skep hoop”.
“Ek het onlangs met groot figure in die plaaslike rugbygemeenskap gepraat en wat ek agtergekom het, is dat baie van hulle van die kantlyn af kla.
“In die afwesigheid van gemeenskappe en verteenwordigers van die sportkodes gaan besluite eenvoudig geneem word en ons moet dit dan net aanvaar.
“Een van die belangrike goed wat ons op daardie vergadering met die stadsbestuurder bespreek het, is dat die kommunikasiekanale oopgehou moet word.
“So ‘n soort sportforum is al voorheen gestig, maar dit het net platgeval. Ons hoop is dat hierdie nuwe inisiatief as ‘n platform kan dien waar ons vrylik oor die stand en toekoms van ons sportgeriewe kan praat.”
Fraser maak ook al vir lank sy stem dik oor die Dal Josafat-stadion se tartanbaan, waarvan die lewensduur volgens hom langer sou wees indien die baan minimaal gebruik word.
“Ek gebruik altyd die voorbeeld van Usain Bolt, wat ses dae per week oefen. Maar – hy oefen vier dae op gras en twee dae op die tartanbaan.”
Die munisipaliteit het ook in sy ver- klaring aangedui dat hy ‘n grasbaan by Faurestraat wil aanbring om die druk op Dal Josafat se tartanbaan te verlig.
“Die Faurestraat-stadion sal onder munisipale toesig herstel word. Die stadion se ander geriewe, insluitend die pawiljoen, is in ‘n goeie toestand en word goed deur die munisipaliteit in stand gehou.
“ ’n Toegewyde gras-atletiek-oefenbaan by die Faurestraat-stadion sal die druk op die Dal Josafat-stadion se elite-tartanbaan verlig,” het die munisipaliteit gesê.
De Kraal, ‘n rugby-erfenisterrein en voormalige tuiste van talle legendariese Springbokke, sal binne die volgende maande sy eerste opgraderings ontvang, insluitend oefenbeligting, rugby-pale, sproeierstelsels, tydelike ablusies en pawiljoen-sitplekke.
Volgens die munisipaliteit sal die Dal Josafat-stadion sy elite-kompetisiestatus behou, met die proses vir akkreditasiehernuwing reeds aan die gang.
“Die munisipaliteit is besig om sportforums en fasiliteitsbestuurskomitees te heraktiveer asook om die munisipale sportbeleid vir die raad se oorweging in September te hersien.
“Hierdie strukture sal sportkodes direkte toegang tot besluitnemers gee,” het die verklaring verder gelui.





