Met Vrouemaand wat tot ‘n einde kom, deel Cindy Kotze (45) van die Paarl haar roerende reis – hoe sy deur moeilike tye moes worstel, haarself weer as vrou moes vind en haar geloof as anker gebruik om deur die rowwe waters van die lewe te swem. Haar reis getuig van trauma, insluitend seksuele aanranding as kind, mediese uitdagings, asook ‘n geliefde wat sy aan die dood afgestaan het. Nietemin – vandag staan sy sterk en reik haar hande uit om ander in hul tyd van nood te help.

Cindy vertel dat sy as kind op 12-jarige ouderdom deur haar pa verkrag is en voor dit – sedert sewejarige ouderdom – drie maal gemolesteer is, eers deur ‘n seun in haar woonbuurt, toe deur vriende van haar ouers en later deur ‘n maat van nog ‘n familielid.

Die seksuele aanranding – veral deur haar pa – was só erg dat sy dit eers in haar laat 20’s weer onthou het, waarna sy dit met die hulp van professionele medici en haar geloof kon verwerk.

Sy vertel dat sy ná die seksuele aanranding die volgende oggend self die bloedkol op haar bedlakens moes uitwas en toe van dié traumatiese voorval vergeet en dit “uitgeblok” het.

Volgens haar was haar grootwordjare ook ontstuimig weens haar pa se gereelde alkoholmisbruik, wat tot geweld en emosionele mishandeling in hul huishouding en teenoor haar ma gelei het – en uiteindelik tot haar verkragting.

Cindy kon gelukkig dié traumatiese gebeure verwerk, asook ‘n poging tot ontvoering op vyfjarige ouderdom toe ‘n vreemde man haar voor haar grootwordhuis opgetel en met haar wou verdwyn het.

Sy het so hard geskree dat haar pa uiteindelik tot haar redding gekom het. Volgens haar is dit die enigste keer dat hy ooit vir haar “daar was”.

Sy vertel dat sy nooit ‘n klagte teen haar pa aangemeld het nie, omdat sy nie “ou wonde wou oopkrap nie”. Hy is intussen oorlede.

Cindy Kotze. Foto: Verskaf

Tans het sy ‘n goeie verhouding met haar ma, wat saam het haar woon.

Cindy het op 32-jarige ouderdom onverwags uitgevind sy gaan ‘n ma word en het kort daarna haar verhouding met haar seun se pa verbreek. Sy verduidelik dat pa en seun mekaar egter wel gereeld sien.

Haar seun is op vierjarige ouderdom as hoogsfunksioneel outisties gediagnoseer, wat ‘n groot skok vir haar was. Sy het besluit dit sal haar nie onderkry nie. Inteendeel, sê sy, dit het haar verryk en haar geleer om geduldig met haarself en ander te wees.

Cindy het haar ridder op ‘n witperd op 42-jarige ouderdom – in Oktober 2022 – ontmoet. Hy is haar droomman met wie sy sou trou, maar hy is sowat twee weke voor hul troue op 28 Oktober 2023 aan ‘n hartaanval oorlede – ongeveer ‘n jaar nadat die paartjie ontmoet het. Dit was soos ‘n hou in die maag, maar tog het sy vrede in haar geloof gevind wat haar staande gehou het.

Tussen 2017 en 2024 het sy ook verskeie mediese probleme ervaar, waaronder servikale kanker, twee beroertes en twee hartaanvalle.

Dit gaan nou goed met haar en sy neem medikasie daarvoor.

Al dié tragedies word gelys, maar nie sodat mense Cindy moet bejammer nie, maar sodat sy kan wys hoe sy wilskrag ontwikkel het om bo haar omstandighede uit te styg.

Volgens haar soek sy altyd ‘n “oplossing” en wil sy nie ‘n “slagoffer” wees nie en met haar oplossing as ‘n “vegter” bekendstaan.

“Mense sien dit wat met my gebeur het as negatief, maar nie ek nie. Ek het dit omgedraai in ‘n positiewe en leef vandag God se woord uit.”

Vandag bestuur sy reeds vir vyf jaar ‘n geregistreerde en suksesvolle organisasie sonder winsbejag, die Good Samaritan ECD Network. Die organisasie bedien 111 vroeëkinderontwikkelingsentrums (ECD’s) en 5 300 kinders in die land en staan hulle met voedsel en ander benodigdhede by. Die projek ontvang geen amptelike staatsfinansiering nie en is afhanklik van skenkings en die betrokkenheid van die gemeenskap.

Danksy hierdie prestasies is sy in 2021 deur Valcare, ‘n sosiale-impak-organisasie in die Paarl, as ‘n Protea of the Valley aangewys, waarna sy in 2024 as die mees invloedryke vrou deur Big M Productions verkies is.

Cindy het aan die Hoër Meisieskool Paarl gematrikuleer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article