Altesaam agt Paarlse en Wellingtonse skole neem aan die toernooi deel. Foto: Rasaad Adams
Altesaam agt Paarlse en Wellingtonse skole neem aan die toernooi deel. Foto: Rasaad Adams

Die Drakenstein-vallei is slaggereed vir die tweede aflewering van die Sanlam- Drakenstein-derby-kampioenskap, wat hierdie naweek op die Faurestraat-stadion sal plaasvind.

Die altesaam agt Paarlse en Wellingtonse skole, wat die afgelope maand in hul jaarlikse derby-wedstryde kragte gemeet het, gaan die naweek in die beker- en skild-afdelings meeding.

Klein Nederberg Sekondêre Skool het verlede jaar met die eerste toernooi koning gekraai toe hy teen die Paulus Joubert Sekondêre Skool in die eindstryd te staan gekom het.

Klein Nederburg sal vanjaar weer deel wees van die beker-afdeling – saam met Paulus Joubert en die Wellington- en

Bergrivier- sekondêre skole.

Die spanne in die skild-afdeling is New Orleans Sekondêre Skool, Noorder-Paarl, Charleston Hill en die Weltevrede Sekondêre Skool.

Hoewel die Bergrivier- en Weltevrede- sekondêre skole die afgelope naweek gelykop gespeel het (13-13), bepaal die vooropgestelde reëls van die kompetisie dat die span wat eerste punte in die wedstryd aangeteken het, vir die beker-afdeling kwalifiseer.

Die toernooi bied aan skole die geleentheid om hul sport-talent op ‘n hoër platform ten toon te stel, sê Lucian Cupido, organiseerder van die toernooi.

“Vanjaar se tweedaagse verrigtinge vind alles by die Faurestraat-stadion plaas, wat dit baie gemakliker en geriefliker maak.”

Verlede jaar het die Vrydag se verrigtinge by die Boland-stadion in Wellington plaasgevind en Saterdag na die Dal Josafat-stadion geskuif.

Dit het tot gevolg gehad dat die opkoms op die Saterdag toe nie so goed was nie, het Cupido verduidelik.

Volgens hom is daar verlede jaar, ondanks die Saterdag se opkoms, uitstekende rugby gespeel.

“Ons het Klein Nederburg en Paulus Joubert in die eindstryd gehad en hulle het met intensiteit gespeel.

“Dit het die weg geopen om hierdie toernooi vanjaar die tweede keer aan te bied. Sanlam het weer besluit om op dié wyse in Drakenstein se skole te belê.”

Hy sê die publiek kan uitsien na regstreekse optrede deur die gewilde Team Kenni-musiekgroep.

“Daar sal verskillende kompetisies en pryse vir toeskouers wees, dus is dit gewis ‘n geleentheid wat jy nie wil misloop nie.”

Volgens Cupido sou ‘n trekking gister (Woensdag 27 Augustus) plaasvind om te bepaal watter spanne in die twee afdelings teen mekaar te staan gaan kom.

“Hierdie toernooi bied aan skole en spelers nog ‘n geleentheid op die sport-kalender om hul talent ten toon te stel. Sanlam, Vuma, Santam en Rainbow Chicken is die borge en elke skool kry ‘n regsfooi.

“Geld wat uit die kompetisie gemaak word, gaan aan die skole. Elke skool het 500 kaartjies gekry om te verkoop en die wins gaan dan direk na die skole toe.

“Hekinkomste word ná aftrekkings ook gelykop verdeel,” het Cupido verduidelik.

Vanjaar se toernooi begin om 14:00 môremiddag (Vrydagmiddag 29 Augustus), met die eerste wedstryd wat om 15:00 afskop.

Saterdag open die hekke vroeg vir ‘n rugbykliniek wat om 09:00 begin en tot 11:00 sal duur. Die eerste wedstryd Saterdag, wat vir die sewende en agtste plekke sal wees, skop om 11:30 af.

Die Team Kenni-musiekgroep sal Saterdag om 15:00 optree voordat die hoofwedstryd om 16:00 afskop.

Toegansfooie beloop R30 vir volwassenes, R20 vir leerders en R10 vir kinders onder 12. Kaartjies kan aanlyn en by die hek gekoop word.

‘n Trekking het Woensdag (27 Augustus) by die Optenhorst Village-winkelsentrum in die Paarl plaasgevind waar bepaal is watter skole komende Vrydag met die afskop teen mekaar te staan gaan kom.

Só lyk Vrydag se program:

Skild-afdeling:

𝟏𝟔:𝟎𝟎 Charleston Hill SS vs Noorder Paarl HS

𝟏𝟕:𝟐𝟎 New Orleans SS vs Weltevrede SS

Beker-afdeling:

𝟏𝟖:𝟒𝟎 Paulus Joubert SS vs Bergrivier SS

𝟐𝟎:𝟎𝟎 Wellington HS vs Klein Nederburg SS

Die gewilde Team Kenni-musiekgroep sal Saterdag by die toernooi optree.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article