Die Drakenstein het sterk vertoon by vanjaar se 33ste Shoprite en Checkers Kampioenskap Boerewors-finaal toe drie inwoners van die vallei onder die top tien geëindig het – en ’n Paarliet, Roberto Agrela (32), boonop as algehele wenner gekroon is uit ongeveer 2 350 deelnemers.
Agrela, ’n motorverkoopspersoon by Cargen Auto in die Paarl, het Saterdag (23 Augustus) by die Cabo Beach Club in Kaapstad sy plek as Suid-Afrika se nr. 1 boereworsmaker verseker. Hy beskryf die oorwinning as “’n nederige ervaring” en het aan die Paarl Post gesê: “Dit voel ongelooflik om te wen.”
Tweede plek is losgeslaan deur Roland Blaauw (47) van Wellington, ’n aansoekondersteuningspesialis by die Shoprite Groep, terwyl nóg ’n Wellingtonner én Roland se seun, die matriekleerder Xavier Blaauw, ook onder die top tien was. Tyron Adams, ‘n sjef in Wellington, het ook die top 10 behaal. Die beoordelaars was lede van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging (SACA).

Volgens Agrela was sy deelname amper toevallig. Hy het op die ingewing van die oomblik besluit om sy resep vir die kompetisie in te skryf, en dit was vir hom en sy familie ’n groot verrassing toe hy as top-10-finalis aangekondig is.
Hy het in 2011 aan Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer en vertel dat hy nog altyd ’n passie vir kosmaak het. Hy eksperimenteer graag met speserye in die kombuis en, geïnspireer deur sy Portugese erfenis van sy pa se kant, is hy veral lief vir varkgeregte soos krakerige varkpens.
Hy het vertel dat hy nog nooit van te vore boerewors gemaak het, of aan enige boerewors-kompetisies deelgeneem het nie, maar toe hy die aansteeklike liedjie “Boereworsgordyn”, deur Robbie Wessels en Appel hoor wat beloop “En daar’s net een wors, dis die boerewors…,” het hy eenvoudig besluit hy moét vir Shoprite en Checkers Kampioenskap se boerewors-kompetisie inskryf.
Sy geheime boerewors resep gaan hy definitief nie verklap nie, maar deel wel dat daar genoeg vet moet in wees “want niemand hou van ‘n droë stuk boerewors nie, asook die alombekende bestanddeel, koljander.
Hy verduidelik dat hy sy resep saamgestel het deur inspirasie uit bestaande weergawes te put en dit met sy eie kombinasies te verryk.
Vanaf 5 September sal Suid-Afrikaners die kans kry om self aan Agrela se wenboerewors te proe wanneer dit landswyd in Shoprite- en Checkers-winkels beskikbaar is.
Die groep vervaardig die wors volgens sy resep, terwyl hy met trots die “bragging rights” hou elke keer as hy dit op ’n rak sien.
Saam met die aansprake op roem, ry Agrela weg met ’n Toyota Fortuner 2.4 GD-6 RB AT en R20 000 kontant, luidens ‘n verklaring deur die Shoprite-Checkers groep.
Asof die titel as Suid-Afrika se top boereworsmaker nie reeds genoeg rede tot viering is nie, vier Agrela ook môre (26 Augustus) sy 33ste verjaardag.
Die ander top 10-finaliste is:
- Asheel Beharie (entrepreneur van Ladysmith in KwaZulu-Natal het derde plek behaal);
- Ayanda Dyanse (slagter by Shoprite in Humansdorp in die Oos-Kaap);
- Emmerencia Pretorius (reddingstegnikus by Swellendam in die Wes-Kaap);
- Keani van Drimmelen (menslike hulpbronne en finansies in Benoni in Gauteng);
- Niekie Horn (administrateur in De Aar in die Noord-Kaap) en
- Thandanani Buthelezi (barista in Durban in KwaZulu-Natal).





