Die Sanlam-Boland- Kavaliers het Sondag (17 Augustus) nog ‘n reuse-sege behaal deur die Vodacom- Bulle met 28-20 in Wellington te klop en daarmee ‘n tweede plek op die Carling-Curriebeker-premierafdeling se punteleer losgespeel.
Dié oorwinning is die Kavaliers se derde tuisoorwinning van die seisoen en hy behou sy onoorwonne rekord op die Boland-rugbystadion.
Dit was ‘n vasberade vertoning deur die Kavaliers, wat eers laat in die tweede helfte die leiding geneem het nadat hy rustyd 7-12 agter was.
Boland het sterk begin, maar kon nie al sy vroeë geleenthede weens ‘n stewige
Bulle-verdediging benut nie, terwyl onnodige foute die tuisspan ook duur te staan gekom het. Die Bulle het dié foute benut toe Jean Erasmus die eerste drie van die wedstryd gaan druk het. Die telling het lank op 5-0 gebly, aangesien albei spanne gesukkel het om momentum te kry, voordat Jaco Grobbelaar die Bulle se voorsprong ná ‘n kragtige dryfmaal tot 12-0 vergroot het.
Die Kavaliers moes ‘n plan maak en het net voor rustyd geantwoord toe die haker, Sidney Tobias, ná ‘n sterk dryfbeweging vir Boland gaan druk het.
Boeta Chamberlain het die Bulle se voorsprong vroeg in die tweede helfte met ‘n strafdoel tot 15-7 vergroot voordat Boland se doeltreffende vleuel Donovan Don in ‘n aanval betrokke was en dit met ‘n kort flitsende duik oor die lyn voltooi het – met die Kavaliers toe slegs een punt agter.
Die Bulle-kaptein, Nama Xaba, het die derde drie vir die besoekers gedruk om druk op Boland te plaas.
Dit het nie die kaptein, Thurlow Marsh, en sy span afgeskrik nie. Hulle het die druk in momentum omgeskep, met Khwezi Mafu wat ná ‘n sterk skrum ‘n briljante beweging voltooi het.
Die voormalige Bulle-stut Dayan van der Westhuizen het die laaste hou toegedien met ‘n bonuspunt-drie in die laaste tien minute van die wedstryd.
Met dié oorwinning skuif die Kavaliers op na die tweede plek agter die Toyota-Cheetahs op die punteleer – albei spanne het 16 punte, met die Cheetahs wat bo is op punteverskil. Dokter Booysen, Louis Schreuder, Michael Benadie en Godlen Masimla van die Kavaliers het geelkaarte ontvang, terwyl die Bulle se Cornel Smit en Siphosethu Mnebelele ook gestraf is.
Met nog drie rondes oor sal een oorwinning waarskynlik genoeg wees om Boland ‘n halfeindplek te verseker. Die span reis nou na Nelspruit om môre (Vrydag 22 Augustus) teen die Airlink Pumas te speel.
• Puntemakers: Sanlam-Boland-Kavaliers 28 (7) – Drieë: Sidney Tobias, Donovan Don, Khwezi Mafu, Dayan van der Westhuizen. Doelskoppe: Ashlon Davids (4).





