Jong Wellingtonse pa (22) vermoor 5 dae ná sy seuntjie se 1ste verjaarsdag

Jade Williams (22)
Jade Williams (22)

Vyf dae nadat hy sy babaseuntjie se eerste verjaarsdag én sy 22ste verjaarsdag op dieselfde dag gevier het, is Jade Williams (22), ‘n jong pa van Wellington, deur ‘n jarelange vriend doodgesteek.

Die beweerde voorval het die afgelope naweek by dieselfde woning plaasgevind waar Williams se seuntjie Izayro Fortuin ‘n jaar gelede op 11 Augustus gebore is. Williams was daar met die geboorte en het hom gevang, vertel sy pa Brenten Cupido.

Volgens Cupido was die familie stomgeslaan toe die Wellington-landdroshof Williams se vermeende moordenaar Dinsdag (19 Augustus) op R1 000-borgtog vrygelaat het.

“Is my kind se lewe dan [net] R1 000 werd,” wou Cupido na afloop van die hofverskyning weet.

Williams en sy seuntjie Izayro (1) deel 'n verjaarsdag op 11 Augustus.
Williams en sy seuntjie Izayro (1) deel ‘n verjaarsdag op 11 Augustus.


Cupido het aan Paarl Post vertel dat hy die afgelope Saterdag (16 Augustus) besig was om rugby te kyk toe Williams se vriende by die huis opgedaag het met die nuus dat hy gesteek is.

“Van wat ons verstaan het hy en sy eks-meisie (Izayro se ma) blykbaar oor iets begin stry. Sy vriend, Edrique [Langeveld] was ook daar en het by die stryery betrokke geraak.

“Hulle twee het toe aan die baklei geraak en dis toe Edrique [na bewering] ‘n mes uithaal en hom steek,” vertel Williams se pa.

Volgens Cupido is Williams in die gesig, hand en bors gesteek.

Langeveld (19) het glo van die toneel gevlug maar is later deur die polisie aangekeer.

Volgens Cupido was die polisie glo binne enkele minute op die toneel.

“Toe ek daar kom was daar drie polisie voertuie. Hulle almal het net die situasie staan en dophou. Nie een het my seun gehelp [nie].

“Dis toe ek besluit het om hom self in my kar te laai en ons is toe hospitaal toe.”

Williams het met sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk, het kol. Johan Barkhuizen, bevelvoerder by die Wellington-polisiekantoor by navraag bevestig.

Langeveld is van moord aangekla.

Die saak is Dinsdag tot 3 Oktober uitgestel vir verdere ondersoek.

‘n Fotosessie wat Williams kort voor klein Izayro se geboorte op 11 Augustus verlede jaar laat neem het.


Cupido sê hy sukkel steeds om die gebeure te verwerk, en om te begryp dat ‘n vriend van sy seun vir sy moord aangekla word.

“Hulle het saam grootgeword en het gereeld saam gekuier.

“Sy hele houding vandag (Dinsdag) in die hof het ook sommer gewys dat hy voel niks gaan met hom gaan gebeur nie.

“Ons het ‘n kind, kleinkind, vriend en jong vader verloor.”

Cupido sê Williams was baie lief vir Izayro.

“Met Izayro se geboorte laasjaar het my seun se lewe drasties verander. Ek kon sien hoe hy baie meer verantwoordelik begin optree het.

“Hy het sy kind omtrent elke dag gesien. Hy was ‘n liefdevolle pa.

“Daar was nooit ‘n slegte oomblik met hom nie. Hy was altyd vol grappe en het gehou van musiek.

“Hy was seker nou nie die beste danser nie, maar hy het graag gedans,” het Cupido vertel.

Williams en sy broer Donovan (20) was albei nog jonk toe hul ma oorlede is.

‘n Roudiens word vir Donderdag (28 Augustus) beplan. Sy begrafnis is daardie Sondag (31 Augustus).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article