‘Fotograaf-verkragter’ pleit onskuldig in Paarlse hof

Die verhoor van die vermeende ‘fotograaf verkragter’ van die Paarl het in die Paarl-streekshof begin. Foto: Ter Illustrasie/Pexels

Die vermeende ‘fotograaf-verkragter’ Achmat Alexander het Maandag (18 Augustus) onskuldig gepleit in die Paarl-streekshof tydens sy verhoor.

Alexander, wat ‘n bekende fotograaf in die Paarl is, word aangekla vir die verkragting en ontvoering van Leighché (Leigh) Thomas, wat 19-jaar-oud was toe die beweerde misdade glo in Desember 2021 gepleeg is.

Thomas het Maandag getuig sy het ‘n paar jaar voor die beweerde verkragting eerste uitgereik na Alexander en navraag gedoen rondom fotosessies. Sy was toe net 16-jaar-oud en Alexander het vir haar gesê sy is onder ouderdom.

Soos die jare verbygegaan het, het sy van die interaksie vergeet tot Alexander uit sy eie uit kontak met Thomas gemaak het met die offer vir ‘n fotosessie. Sy was toe 19-jaar-oud. Die dag van die fotosessie het Alexander glo vir Thomas gesê dat die plek wat sy voorgestel het waar die foto’s geneem moet word nie geskik is nie. Hy het toe glo aangedring op ‘n plek naby water en die berge, en hulle is na Bainskloofpas.

Tydens die sessie is Thomas glo ‘n alkoholiese drankie gegee wat ‘n bedwelmende middel bevat het. Sy is kort daarna glo in sy voertuig verkrag. Thomas het getuig hoewel sy telkens “nee” gesê het, het Alexander voortgegaan om haar te verkrag.

Die verhoor word Donderdag (21 Augustus) in die Paarl-streekshof hervat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article