Thurlow Marsh, die Kavaliers se kaptein, word vasgetakel tydens Sondag se Curriebeker-wedstryd teen die Bulle in Wellington. Foto: Grant Pitcher/Gallo Images
Thurlow Marsh, die Kavaliers se kaptein, word vasgetakel tydens Sondag se Curriebeker-wedstryd teen die Bulle in Wellington. Foto: Grant Pitcher/Gallo Images

Die Sanlam Boland Kavaliers het nóg ’n groot teenstander platgetrek en hulself gelyk bo-aan die Carling Curriebeker Premierafdeling-punteleer geplaas nadat hulle die Vodacom Bulle Sondag (17 Augustus) met 28–20 in Wellington geklop het.

Dit was die Kavaliers se derde tuisoorwinning en hulle bly dus onoorwonne by die Boland Rugby-stadion in vanjaar se Curriebeker.

Die Kavaliers moes hard baklei, aangesien hulle eers diep in die tweede helfte die leiding geneem het nadat hulle met rustyd 7-12 agter was.

Die Wellington-span het die wedstryd sterk begin, maar kon nie vroeë geleenthede benut nie weens die Bulle se taai verdediging, terwyl ’n paar onverpligte foute die tuisspan ook gekortwiek het.

Die Bulle het Boland se misstappe benut toe Jean Erasmus oor die doellyn geduik het vir die wedstryd se eerste drie.

Die telling het tot diep in die eerste helfte 5-0 gebly, aangesien albei spanne gesukkel het om momentum te kry, voordat die Bulle hul voorsprong na 12-0 uitgebrei het toe Jaco Grobbelaar gaan druk het.

Sidney Tobias, die Kavaliers se haker, het reg voor rustyd ná ’n kragtige dryfbewegingsdrie vir die tuisspan gaan druk.

Boeta Chamberlain het egter vroeg in die tweede helfte die Bulle se voorsprong tot 15-7 vergroot met ’n strafdoel, voordat die Kavaliers se driedrukheld Donovan Don ’n aanval begin het én dit self voltooi het met ’n “pick and go” om die tuisspan net ‘n punt agter die voorloper te bring.

Bulle-kaptein Nama Xaba het sy span weer aangevuur en self oor die doellyn gegaan vir hul derde drie, wat Boland onder druk gehou het.

Thurlow Marsh, die Kavaliers se kaptein, en sy span het nie onder die druk gebreek nie en dit in wenmomentum omskep.

Die Kavas se Khwezi Mafu het ’n briljante skuif ná ’n magtige skrum voltooi, voordat die voormalige Bulle-stut Dayan van der Westhuizen in die laaste tien minute die doodsteek gegee het met die bonuspunt-drie.

Met dié oorwinning skuif die Kavaliers op na die tweede plek op die Curriebeker-log, gelyk met die Toyota Cheetahs op 16 punte, maar die Bloemfontein-span loop voor op punteverskil.

Met drie rondes oor, sal nóg ’n oorwinning vir die Kavaliers bykans hul plek in die halfeindrondte verseker. Hulle reis nou na Nelspruit om Vrydag, 22 Augustus, teen die Airlink Pumas te speel.

Hawies Fourie, die Kavas se hoofafrigter, het Sondag tydens ‘n perskonferensie na afloop van die wedstryd gesê ná die afgelope twee weke se groot kragmetings gaan daar in die komende week op die rus en herstel van spelers gefokus word.

“Ons gaan natuurlik ook goeie spel wil toon teen die Pumas maar dit is vir ons absoluut noodsaaklik dat spelers herstel.

“Ons sal môre (Maandag) oor die naweek gesels en dan Dinsdag en Woensdag ligte oefensessies hê. Ons gaan nou slim te werke moet gaan om nie spelers uit te put nie,” het Fourie gesê.

PUNTETOEKENNINGS:

SANLAM BOLAND KAVALIERS 28 (7) – Drieë: Sidney Tobias, Donovan Don, Khwezi Mafu, Dayan van der Westhuizen. Skoppe: Ashlon Davids (4 doelskoppe)

VODACOM BULLE 20 (12) – Drieë: Jean Erasmus, Jaco Grobbelaar, Nama Xaba. Skoppe: Boeta Chamberlain (1 doel, 1 strafdoel)

SPANNE

SANLAM BOLAND KAVALIERS:
15 Donavan Don, 14 Marcqwien Titus, 13 David Brits, 12 Lunathi Nxele, 11 Xavier Mitchell, 10 Ashlon Davids (onderkaptein), 9 Louis Schreuder, 8 Thurlow Marsh (kaptein), 7 Sibusiso Sangweni, 6 Ludio Williams, 5 Jurie van Vuuren, 4 Michael Benadie, 3 Doctor Booysen, 2 Sidney Tobias, 1 Mthokozisi Gumede.
Plaasvervangers: 16 Llewellyn Classen, 17 Wayrin Losper, 18 Dayan van der Westhuizen, 19 Ameer Hendricks, 20 Khwezi Mafu, 21 Godlen Masimla, 22 Juan Mostert, 23 Erik Lambrecht.

VODACOM BULLE:
15 Stravino Jacobs, 14 Katlego Letebele, 13 Demitre Erasmus, 12 Cornel Smit, 11 Aphiwe Dyantyi, 10 Boeta Chamberlain, 9 Zak Burger, 8 JJ Theron, 7 Sintu Manjezi, 6 Nama Xaba (kaptein), 5 Marvin Orie, 4 Jaco Grobbelaar, 3 Jean Erasmus, 2 Juann Else, 1 Ruan Swart.
Plaasvervangers: 16 Esethu Mnebelele, 17 Lizo Gqoboka, 18 Bryan le Roux, 19 Marco Ferreira, 20 Junior Pokomela, 21 Brooklyn Newman, 22 Jaco van der Walt, 23 Cheswill Jooste.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article