Elke munisipaliteit in die land is verplig om ‘n herwinningstrategie te hê soos in die departement van bosbou, visserye en die omgewing se Nasionale Afvalbestuurstrategie van 2020 voorgeskryf word. Die Drakenstein-munisipaliteit (DM) se verordening oor geïntegreerde afvalbestuur van 2020 maak ook voorsiening hiervoor. Maar wat behels só ‘n herwinningstrategie? Paarl Post het by die DM se oorlaai- en herwinningstasie gaan aanklop om meer hieroor uit te vind.
Volgens Thys Serfontein, die DM se senior bestuurder van vaste afval, word daar jaarliks die DM 114 000 ton vaste afval oor die weegbrug by Welling-stortingsterrein hanteer:
Dit sluit in vullis wat die vullisvragmotors oplaai sowel as die parke-afdeling en plaas- asook sake-eienaars wat vullis by die stortingsterrein in Wellington aflaai.
Hierdie afval bestaan uit vier hoofstrome:
• Organiese afval (±30%) bestaande uit tuin- en kombuisafval;
• Bourommel (±35%); en
• Huishoudelike afval (20-30%) waarvan sowat 7% nie herwin kan word nie. Die res is herwinbare materiale.
Tans word slegs sowat 30% tot 36% van die totale vullisstroom herwin en die munisipaliteit wil dié syfer aansienlik verbeter.
Probleme in huidige stelsel
Volgens die DM gaan haal die vullisvragmotors eers die vullisdromme en daarna die herwinning wat huishoudings in sakke plaas wat deur die DM voorsien word. Dit word dus in twee vragte gedoen.
Tog word sommige sakke gesteel of nie deur die DM afgelewer nie, wat die hoeveelheid herwinningsmateriaal laat daal. Volgens Serfontein is die munisipaliteit tans besig met ‘n plan om hierdie proses af te stof en te verbeter.
‘n Verdere uitdaging is organiese afval. Die Wes-Kaapse regering het ‘n mandaat ingestel dat geen organiese afval teen 2027 op vullisterreine gestort mag word nie omdat dit, onder meer, metaangas vrystel, wat tot aarsdverwarming bydra.
Dit verswak ook stortingsterreine, in dié geval Wellington-stortingsterrein, se lugruim, wat tans sowat vyf jaar oor het voordat die stuk grond gerehabiliteer moet word en vir ‘n sekere aantal jare nie gebruik mag word nie, volgens Serfontein.
Opgraderings en nuwe toerusting
Nog ‘n stap wat die DM geneem het, sluit in die opgradering van die Paarl se oorlaai- en herwinningstasie, wat tans in fase een is met ‘n begroting van ongeveer R8,9m wat deur die munisipale raad goedgekeur is.
Die geld word beoog om gebruik te word vir ‘n vervoerband (conveyer belt) asook ‘n elektroniese skerm wat geïnstalleer sal word om vullis wat by die fasiliteit afgelewer is, uit te sorteer en die organiese afval en herwinbare materiaal van mekaar te skei sodat die res na die ashoop kan gaan.

Enige herwinningsmateriaal wat dan geïdentifiseer is, gaan met die vervoerband na die afval-entrepreneurs, oftewel die waste-entrepreneurs, wat dit verder sal uitsorteer, terwyl organiese afval deur die Food 2050-masjien in ‘n fyn poeier omgeskep word wat as ‘n grondversterker saam met kompos gebruik kan word.
Food 2050-masjien
Die DM het reeds ‘n loodsprojek met Mediclinic Paarl begin, wat sy organiese afval na hierdie masjien stuur. Die Food 2050 is die enigste een van sy soort in die wêreld en behoort aan die Suid-Afrikaner Tertius Pieters.
Die doel is om uiteindelik die ±500 ton organiese afval wat maandeliks gegenereer word, só te verwerk.

Wat met die poeier gaan gebeur, word nog ondersoek, maar die projek plaas die DM in ‘n gunstige posisie om die provinsiale 2027-teiken te haal.
Afval-entrepreneurs
In 2018 het die Drakenstein-munisipaliteit (DM) met ‘n verteenwoordiger van sowat 100 herwinnaars onderhandel, wat daagliks op die Wellington-stortingsterrein na herwinningsmateriaal gesoek het om te verkoop. Daar is ooreengekom om hierdie diens uit te kontrakteer na die herwinningsfasiliteit in Distillerystraat.
Volgens Serfontein was die Wellington-stortingsterrein in 2018 op die punt om sy lisensie te verloor weens verskeie oortredings, onder meer die teenwoordigheid van onwettige herwinnaars op die terrein. Die DM het toe besluit om hul dienste formeel uit te kontrakteer en hulle na die Distillerystraat-fasiliteit te verskuif.
Tans is daar sowat 30 herwinnaars wat die herwinningsakke, wat die munisipale vullisvragmotors by huishoudings oplaai, asook materiaal wat by die stortingsterrein afgelewer word, uitsorteer, baal en op grootmaat verkoop. Dit dien as hul inkomste. Hierdie groep herwin gemiddeld tussen 130 en 150 ton per maand.
Die berig is aangepas na dit die eerste keer aanlyn gepubliseer is.





