Die finale fluitjie het oor die 2025 Paarl Interskole geblaas met die Hoër Jongenskool Paarl wat in die laaste 14 minute die spel oorrompel het om ‘n naelbyt 35-33 oorwinning teenoor die Hoërskool Paarl Gimnasium te beklink.

Dit nadat hulle nog in die 50ste minuut 21-33 agtergeloop het. Albei spanne het in die eerste 12 minute gelyk of hulle hul ritme probeer vind, maar daarna het die drieë behoorlik gereën met die Gimmies se staatmaker-kaptein, Markus Muller wat die eerste 13 punte vir sy span op die telbord gesit het.

Boishaai het vinnig momentum opgetel en op Gim se aanslae teruggeantwoord.
Die halftydtelling was 14-13 in Boishaai se guns.
Die Gimmies het met nuwe krag en ywer in die tweede helfde teruggekom met twee pragdrieë wat deur die puntemakers Hendré van der Westhuizen en Jean Dreyer aangeteken, en deur Muller verdoel is.
Kort voor die 60ste minuut was die Gimmies in die voorloop met ‘n telling van 33-21, en het dit aanvanklik gelyk of die groen en geel, wat al in vorige jare die Interskole gedomineer het, sou seëvier.
Die manne in blou het egter ‘n laaste troefkaart gespeel en met twee drieë in die laaste 14 minute teruggeantwoord. Die Suzuki Game Changer-oomblik het gekom toe Bois se Liam de Villiers in die laaste vyf minute die doellyn oorgesteek het. ‘n Laaste terugvegpoging deur die Gimmies is in die wiele gery toe hulle ‘n fout begaan het wat tot ‘n skrum in Boishaai se guns gelei het. Die span het alles in hul vermoë gedoen om balbesit in die laaste minuut te behou, en het met ‘n uitskop na die kantlyn ná die 70ste minuut die wen beklink.
Die Gimmies was tot voor vandag se titaniese kragmeting nog in die eerste posisie op die skolerugby-ranglys. Boishaai skuif nou in die eerste plek in ná hul oorwinning vanmiddag op die Faurestraat-stadion in die Paarl om die skolerugbyseisoen op ‘n hoë noot af te sluit.
Puntemakers:
Die Hoërskool Paarl Gimnasium
Drieë: Markus Muller, Hendré van der Westhuizen, Jean Dreyer
Doelskoppe: Markus Muller (3)
Strafskoppe: Markus Muller (4)
Die Hoër Jongenskool Paarl
Drieë: Jeneal Davids, Gershom Pieters, Kobus Wilken, Leighton Brinkhuis, Liam de Viliers
Doelskoppe: Iwan Jordaan (5)






You must be logged in to post a comment.