‘n Optrede vir die verwydering van onwettige kragverbindings is onlangs deur die Drakenstein-munisipaliteit in onder meer die Thembani-informele nedersetting in Mbekweni uitgevoer nadat ‘n vrou van die area in Maart weens onwettige bedrading tot haar dood geskok het.
Die voorval in Maart het op die hoek van Drommedaris- en Phokengstraat gebeur, lui ‘n verklaring deur die munisipaliteit.

Onwettige kragverbindings is ook in Drommedaris, Jantjie en Mafila (White City-informele nedersetting) suksesvol verwyder.
“Elektrisiteit is daarna herstel na al die geaffekteerde gebiede.
“Die volgende area wat aangepak is, was Silvertown, ook in Mbekweni.
“Die spanne, vergesel deur ons wetstoepassingsafdeling en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), het letterlik kilometers se onwettig gekonnekteerde drade verwyder,” het die munisipaliteit vandeesweek gesê.
Volgens die munisipaliteit het inwoners hul samewerking gegee en geen voorvalle of beserings is tydens die klopjag aangemeld nie.
“Drakenstein-munisipaliteit wil inwoners waarsku teen die aansluiting van onwettige elektrisiteitsverbindings by hul eiendomme, aangesien dit ’n lewensgevaarlike aktiwiteit is.
“Onwettige verbindings hou gevaar in vir munisipale werkers wat instandhoudingswerk aan die stelsel moet verrig, en dit verswak die kragnetwerk,” het die munisipaliteit gemaan.

Volgens die munisipaliteit moet enige elektriese installasiewerk deur ’n geregistreerde elektrisiën gedoen word, wat die installasie toets en beveilig nadat die plaaslike owerheid via ’n aansoekvorm in kennis gestel is.
“Sodra die installasie voltooi en dit deur die nodige toetse as veilig verklaar is, sal ’n sertifikaat van nakoming deur die munisipaliteit uitgereik word.
“Die plaaslike owerheid moet die nodige dokumentasie ontvang voordat die elektrisiteit na die eiendom aangeskakel mag word.”






You must be logged in to post a comment.