7’s-rugby op sy beste kan vanaand (6 April) by die Jive Young Gardens-toernooi op die Faurestraat-sportterrein verwag word.
Agt Paarlse klubspanne gaan sake uitspook om vet prysgeld en die spogregte as Paarl se beste 7’s-span.
Mario Williams, die hooforganiseerder, het Bevco vir sy borgskap bedank. “As klub is ons dankbaar teenoor Bevco met sy handelsmerke Jive en Pepsi vir die geldelike bydrae. Sonder borgskappe soos dié kan ons nie so ’n prestige-ryke toernooi aanbied nie.”
Young Peoples het verlede seisoen die Paarl-streek se titel gewen en sal weer as gunstelinge begin. Hy kan egter sterk teenstand verwag van Rangers, verlede jaar se liga- en uiklopkampioene van die Paarl-streek.
Die gasheer, Young Gardens, sal ook ’n punt wil bewys. Die eerste wedstryd – tussen Pêrel United en Albions – begin om 18:00. Riverstones en Young Standards bots om 18:15, gevolg deur Violets teen Peoples, en Rangers teen Gardens. Toegang kos R20 vir almal bo 12, R20 per voertuig, en kinders onder 12 betaal R10.





