Die 84-jarige Paarlse roeier Jannie Malherbe mik vanjaar vir ’n 50ste Bergrivier-kanomarathon-medalje.Foto: John Hishin/Gameplan Media

Credit: SYSTEM

Die 2023-Bergrivier-kanomarathon sal vir die legendariese Paarlse roeier Jannie Malherbe betekenisvol wees wanneer hy gaan poog om sy vyftigste eindpunt te behaal wanneer die wedvaart op Saterdag 9 Julie in Velddrif eindig.

Malherbe het die tweede meeste Berg’-eindpunte in die geskiedenis met 49 en is slegs tweede ná wyle Giel van Deventer. Vanjaar se Berg’ sal verdere betekenis dra deurdat dit die eerste sal wees sedert Van Deventer in 2022 tragies dood is.

Dié twee het baie Berg’s saam geroei en Malherbe weet vanjaar se byeenkoms sal ’n belangrike huldeblyk aan Van Deventer en sy invloed op die ikoniese wedvaart deur die Swartland wees.

“Ons gaan Giel hierdie jaar gewis baie mis,” het ’n somber Malherbe gesê. “Hy was soos ’n Berg’-ensiklopedie en kon jou enigiets vertel wat jy oor die wedvaart en die rivier sou wou weet.

“Ek het hom altyd die eerste paar dae gevolg, want hy het geweet waar die struikelblokke was en het die rivier beter as enigiemand geken.

“Dis nie net ek wat hom sal mis nie, maar hy sal vanjaar deur die hele roeigemeenskap gemis word.”

Met ’n 50ste Berg’-eindmedalje by die eindstreep vir die 84-jarige Malherbe is die syfers nie die motivering nie.

“50 is net ’n syfer, maar dis gewis nie hoekom ek roei nie. Ek roei omdat dit vir my ’n lewenswyse is en die Bergrivier-kanomarathon is so ’n belangrike deel van my jaar.

“Die wedvaart deel my jaar in die helfte. Ek vat vier dae af in Julie sodat ek van alles af kan wegkom – van die werk en my selfoon af – en net myself geniet. Ek is dol daaroor om in die Wildernis te oefen, en deesdae roei ek omtrent vier uur per week, wat genoeg behoort te wees om my tot in Velddrif te kry!”

Met 49 Berg’s agter die blad het Malherbe die rivier en die wedvaart in elke vorm denkbaar beleef, en hy weet hoe om die belangrikes oor die jare uit te kies.

“Jy onthou altyd die moeilikes – dié met wind en lae watervlakke, want dit is die onvergeetlikes. Die wedvaart op vol riviere met vier sonskyndae is nie onvergeetlik nie, maar herinner jou dat elke Berg’ anders is.

“Dit is ’n spesiale wedvaart wat ’n spesiale plek in my hart het, en solank ek fiks en gesond bly, sal ek aanhou roei,” het Malherbe verduidelik.. Die 2023-Bergrivier-kanomarathon word van 5 tot 8 Julie van die Paarl tot by Velddrif beslis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article