22 botsings op Sonstraalweg in die Paarl sedert Januarie vanjaar

Daar was Saterdag (18 Julie) nog ‘n ongeluk op Sontraalweg. Foto: Facebook/ DFW Fire & Rescue NPC

22 botsings op Sonstraalweg in die Paarl sedert Januarie vanjaar

Daar was Saterdag (18 Julie) nog ‘n ongeluk op Sontraalweg. Foto: Facebook/ DFW Fire & Rescue NPC

Die veiligheid van Sonstraalweg in die Paarl is weer in die kollig ná verskeie ongelukke die afgelope paar maande, met nog ‘n botsing wat die afgelope naweek plaasgevind het.

Die mees onlangse voorval het Saterdagaand (18 Julie) in mistige weerstoestande plaasgevind. Die Drakenstein-plaaswag (DFW) het op die botsing gereageer wat omstreeks 19:48 by hulle aangemeld is.

Volgens DFW het die ongeluk by die T-aansluiting van Sonstraalweg en die Swawelstertpad plaasgevind.

“Die sigbaarheid was byna nul en ongelukkig het drie voertuie gebots,” lui hul verklaring.

DFW se noodhulpbeamptes het onmiddellik mediese hulp verleen aan diegene wat beseer is, en met die aankoms van EMS-ambulansdienste die beseerdes vir verdere mediese behandeling oorgegee.

“Die plek van die ongeluk is berug, geen straatlig en ook geen padtekens nie, aangesien dit ‘n paar weke gelede in ‘n vorige ongeluk vernietig is en nog nie vervang is nie.”

Talle ongelukke hier in eerste halfte van 2026

Paarl Post verneem dat een persoon ná Saterdag se ongeluk gesterf het, maar die polisie het teen druktyd geen bevestiging verskaf nie.

Volgens die Drakenstein-munisipaliteit is 22 padongelukke tussen 1 Januarie en 19 Julie vanjaar op Sonstraalweg aangemeld.

Die munisipaliteit sê hy verskerp nou sy padveiligheidsmaatreëls op dié roete.

Japie Cornelissen, hoof van verkeers- en lisensiëringsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het aan Paarl Post bevestig dat die munisipaliteit kennis neem van die onlangse ongelukke op dié pad en sy medelye uitgespreek.

“Drakenstein-munisipaliteit neem kennis van die onlangse ongelukke op Sonstraalweg en spreek sy medelye uit met die families en persone wat deur hierdie voorvalle geraak is. Padveiligheid bly ‘n prioriteit, en die munisipaliteit werk deurlopend saam met relevante rolspelers om risiko’s op paaie reg oor Drakenstein te verminder,” sê hy.

Verskerp van padveiligheid

Cornelissen het verduidelik dat daar reeds ‘n sigbare verkeers- en wetstoepassingsteenwoordigheid op Sonstraalweg is, in samewerking met die Wes-Kaapse provinsiale verkeersowerheid, terwyl verkeerstoestande op die roete voortdurend gemoniteer word.

“As deel van die munisipaliteit se deurlopende padveiligheidsprogram sal Drakenstein se verkeersafdeling, saam met die provinsiale verkeersowerheid, sy fokus op hierdie roete verder verskerp deur verhoogde sigbaarheid en bykomende verkeersbeheerpunte,”sê Cornelissen.

“Daarbenewens sal verkeersopnames en ‘n hersiening van padtekens en padmerke onderneem word om te verseker dat bestaande verkeersveiligheidsmaatreëls optimaal funksioneer. Die situasie sal deurlopend geëvalueer en gemoniteer word.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article