Onwettige studente behuising in Kroonstad onder die loep.
Onwettige studente behuising in Kroonstad onder die loep.

KROONSTAD – Die groeiende verskynsel van onwettige studente-akkommodasie in die Oudorp van Kroonstad kan daartoe lei dat dié akkommodasie nie vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie.

Volgens die VF Plus word residensiële erwe toenemend omskep in akkommodasie vir studente sonder nakoming van munisipale verordeninge, soneringsbepalings en bouregulasies.

Tydens ’n oorsigbesoek het die VF Plus bevind dat studente in sekere gevalle in onaanvaarbare omstandighede woon. Gebrekkige sanitasie en onvoldoende badgeriewe stel studente bloot aan gesondheids- en veiligheidsrisiko’s, terwyl die druk op bestaande water-, riool- en kraginfrastruktuur verder toeneem.

Die VF Plus het in ʼn skrywe aan die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit gevra om dringend duidelikheid te verskaf oor die wettigheid van studente-akkommodasie wat in Kroonstad ontwikkel word. Dit sluit in die status van goedgekeurde bouplanne, die uitvoering van verpligte inspeksies en die nakoming van toepaslike munisipale en nasionale wetgewing.

Studente behuising in Kroonstad kan NSFAS-befondsing diskwalifiseer.
Studente behuising in Kroonstad kan NSFAS-befondsing diskwalifiseer.

Die party beklemtoon dat die huidige situasie nie net regsonsekerheid skep nie, maar ook die veiligheid en gesondheid van studente en inwoners in gedrang bring.

LEES OOK: ‘NSFAS dra skuld’ aan oproer, brand by kollege weens laat betalings

Volgens NSFAS se 2026-akkommodasievereistes moet alle privaat akkommodasie voldoen aan streng standaarde voordat dit vir studente geakkrediteer kan word. Indien hierdie vereistes nie nagekom word nie, kan die akkommodasie nie vir NSFAS-befondsing kwalifiseer nie.

Die VF Plus het ’n gesamentlike vergadering en opvolg-oorsigbesoek met die relevante munisipale portefeuljes versoek om nakoming af te dwing en regstellende optrede te verseker.

Inwoners en studente het ’n reg op wettige ontwikkeling en veilige, waardige akkommodasie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article