WELKOM – ‘n Middag van inspirasie, hoop en selfontdekking het afgespeel tydens die bekendstelling van ‘n nuwe boek waarin die skrywer haar persoonlike reis van trauma, genesing en vergifnis met die publiek gedeel het.
Volgens Ilona Combrink is die boek nie bloot haar lewensverhaal nie, maar ‘n gids wat lesers aanmoedig om na hul lewe te kyk, hoofstukke af te sluit en nuwe geleenthede met moed aan te pak.
Sy verduidelik die doel van die boek is om mense te help om verlore dele van hulself te herontdek en nuwe betekenis en rigting te vind.
Tydens haar praatjie op Saterdag 25 Julie het sy vertel hoe die idee vir die boek ontstaan het uit een van die donkerste tye in haar lewe.
Sy het die gehoor teruggeneem na 14 Maart 2013, toe gewapende mans haar huis in Welkom binnegedring het. Sy en haar verloofde, Tony Teixeira, is vasgebind terwyl haar kinders in ‘n ander kamer geskuil het en rowers die huis geplunder het. Tony is saam met die aanvallers geneem, waarna hy bykans ‘n week vermis was voordat sy liggaam gevind is. Hy was in die kop geskiet en sy arms en bene was vasgebind. Hierdie moord het die gemeenskap geruk en diep letsels gelaat.
Sy het vertel hoe die traumatiese ervaring haar lewe onherroeplik verander het.
In daardie oomblikke, vasgebind en onseker oor haar eie lot, het sy vrede gemaak met die moontlikheid dat sy die nag nie sou oorleef nie.
‘n Skokkende onthulling was dat die aanval deur haar kinders se pa beplan is. Sy erken die woede en seer oor hierdie verraad het haar jare lank vergesel en dat vergifnis een van die moeilikste uitdagings van haar lewe geword het.
Twee jaar ná die voorval het sy, tydens terapie saam met haar kinders, begin joernaal hou en haar gevoelens neerskryf. Sy verduidelik dat hierdie proses haar gehelp het om emosioneel te herstel en uiteindelik die pad van vergifnis te kies.
“Vergifnis gaan nie altyd oor die ander persoon nie,” het sy gesê.
“Dit gaan daaroor om jouself vry te maak sodat jy met jou lewe kan aangaan.”
Vandag werk sy as ‘n gesondheid- en neuro-afrigter en bied sy vroue- en welstandswegbreke aan. Volgens haar het haar pyn uiteindelik ‘n doel gekry deurdat sy nou ander mense kan help om trauma, verandering en moeilike lewensfases te verwerk.
Sy het die middag afgesluit deur die gehoor aan te moedig om nie in negatiewe denkpatrone vasgevang te bly nie, maar doelbewus nuwe maniere van dink en leef te ontwikkel.
■ Combrink se eksman, Pierre Vorster, is op 5 November 2014 deur die hof skuldig bevind aan die moord op die Welkom-sakeman Tony Teixeira.
Hy is geïdentifiseer as die baasbrein agter die beplande ontvoering en huurmoord.
Drie ander mans (Tsietsi Mara, Mosoatsi Tsemane en Zandisile Nkhabu) is skuldig bevind aan die moord, huisbraak en ontvoering.
LEES OOK: “Hooptimiste” weet altyd dinge eindig nie hier nie





