NovaNews

Drankverkope tydens verlengde ure in Noord-Kaap ongrondwetlik verklaar

Drankverkope in Noord-Kaap tydens verlengde ure ongrondwetlik verklaar.
Drankverkope in die Noord-Kaap tydens verlengde ure is ongrondwetlik verklaar. FOTO: Unsplash

KIMBERLEY – Die Hooggeregshof in Kimberley het die Noord-Kaapse Dobbelary en Drankwet 6 van 2024 in sy geheel as ongrondwetlik en ongeldig verklaar. Dit volg ná ’n aansoek deur die trustees van die DG Murray Trust om dié wet ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar.

Hierdie aansoek was gegrond op die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer se versuim om die publiek sinvol by die wetgewende proses te betrek, asook die bewering dat die verlenging van drankhandelsure irrasioneel is en fundamentele regte skend.

Die uitspraak wat op 17 April deur adjunk-regter-president Violet Phatshoane gelewer is, volg op ‘n regstryd wat deur die trustees van die DG Murray Trust teen die speaker van die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer, die premier en verskeie ander respondente gevoer is.

LEES OOK: Alcohol abuse contributes to Northern Cape crime; yet alcohol research foundation closes

Die kern van die hof se besluit berus op die wetgewer se versuim om die publiek sinvol by die wetgewende proses te betrek, asook die irrasionele aard van sekere bepalings rakende drankhandelsure.

Voorts het die hof bevind dat die Noord-Kaapse Provinsiale Wetgewer nie voldoen het aan sy grondwetlike verpligting onder artikel 118(1)(a) om openbare betrokkenheid te fasiliteer voordat die wet aangeneem is nie.

Volgens die getuienis is die eerste weergawe van die wetsontwerp slegs in Engels gepubliseer, wat strydig is met die reëls wat vereis dat dit in minstens twee van die provinsie se oorheersende tale beskikbaar moet wees. Verder is ‘n tweede weergawe van die wetsontwerp, wat wesenlike veranderinge aan handelsure bevat het, nooit vir openbare kommentaar gepubliseer nie.

Die wetgewer het probeer om die publiek te betrek deur middel van ‘n “hibriede” virtuele verhoor met ‘n kennisgewing van slegs ses werksdae.

Die hof het egter bevind dié proses het landelike en behoeftige gemeenskappe sonder internettoegang effektief uitgesluit.

Regter Phatshoane het bevind die prioritisering van ‘n handjievol “sleutelbelanghebbendes” bo die breër publiek skend die gees van deelnemende demokrasie.

‘Verlenging van handelsure irrasioneel’

Benewens die prosedurele foute het die hof gefokus op artikels 93(2)(c) en 93(4) van die Wet, wat handel oor die ure waartydens drank verkoop mag word.

Die aansoeker het aangevoer die verlenging van handelsure vir verbruik op die perseel tot 02:00 (Maandag tot Sondag) is irrasioneel, veral gegewe die provinsie se ernstige sosio-ekonomiese uitdagings.

Die hof het saamgestem die wetgewer het versuim om die beginsels van wettigheid en rasionaliteit na te kom deur hierdie ure goed te keur sonder om die impak op plaaslike gemeenskappe behoorlik te oorweeg.

‘n Spesifieke teenstrydigheid is in artikel 93(2)(c), wat volgens die hof se leeswerk sou beteken dat sekere sorghum- of tradisionele bierlisensiehouers geen tydsbeperking op handel sou hê nie, ‘n bepaling wat ander dele van die wet weerspreek. Die bepalings is “onversoenbaar met die wetgewer se eie verklaarde redes” om drankmisbruik te verminder.

Kundiges getuig oor oormatige alkoholverbruik in Noord-Kaap

Die DG Murray Trust het kundige getuienis van prof. Charles Parry, ‘n epidemioloog, en Samantha Filby, ‘n ekonoom, voorgelê om die gevare van oormatige alkoholverbruik in die Noord-Kaap te beklemtoon.

Parry se getuienis het getoon die Noord-Kaap het die hoogste vlakke van gevaarlike of skadelike drinkgewoontes onder swanger vroue (24,9%), met skrikwekkende hoë syfers van fetale alkoholsindroom. Filby het getuig die verkorting van laatnag-handelsure en daarom alkoholverbruik, kan die gepaardgaande druk op die openbare gesondheidstelsel, padongelukke en geweldmisdaad verminder.

LEES OOK: Farr-sluiting: Ernstige gevolge vir bewustheid van fetale alkoholsindroom in

Hoewel die verweerders aangevoer het die getuienis is irrelevant en dat die saak bloot oor ‘n beleidsverskil gaan, het die hof bevind die wetgewer het ‘n positiewe plig om gemeenskappe teen alkoholverwante skade te beskerm.

Die hof het Wet 6 van 2024 ongeldig verklaar en die griffier van die hof is opdrag gegee om ‘n afskrif van die uitspraak binne 15 dae na die Konstitusionele Hof te stuur vir oorweging en bekragtiging, omdat ‘n bevel van grondwetlike ongeldigheid eers van krag word sodra dit deur die hoogste hof bevestig is.

Die respondente is ook beveel om die regskoste van die aansoek te betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article