Noordkaap Bulletin

Noord-Kaapse kuslyn ‘n ongeslypte diamant; bied seevakansie sonder gelyke

Noord-Kaapse kuslyn
’n Goue sonsondergang by Kleinzee in die Noord-Kaap. FOTO: Helena Barnard

Heelwat Suid-Afrikaners weet nie dat die Noord-Kaap ’n “see” het nie – nog minder weet hulle dat dié kuslyn ’n ongeslypte diamant is.

Moenie die Noord-Kaapse kuslyn van ongeveer 300 km op sy baadjie takseer nie – nie op sy koue seewater, verafgeleë stranddorpies, sy besadigde plantegroei of die grondpad of drie wat jy gaan teëkom nie.

Wat jy daar sal kry – benewens sonsondergange oor die see – is ruimte, rustigheid, tydloosheid en waarskynlik jouself.

Jy sal ongerepte strande “ontdek”, rotsagtige gebiede waarteen die see skuimend in branders breek, mense wat uitvra én luister, argitektuur sonder aanstellerigheid en ’n ryke geskiedenis.

Parallel aan die N7-roete begin dié kuslyn in die omgewing van Lepelsfontein en strek noord tot by Alexanderbaai teen die Namibië-grens. Hondeklipbaai, Kleinzee (ook Kleinsee), Port Nolloth, asook Alexanderbaai is die dorpies langs dié kuslyn. McDougallsbaai, deel van Port Nolloth, is die gewildste by die deursnee seevakansieganger, en die besigste.

Die Noord-Kaapse kuslyn het tydens die Covid-19-inperking ’n onverwagse toeloop van besoekers beleef toe ’n verbod op toegang tot dié provinsie se strande nie ingestel is nie.

Die Noord-Kaapse kusgebied bied genoeg plekke strandlangs om jouself vir ure te vermaak, soos hierdie gebied suid van Hondeklipbaai. FOTO: Helena Barnard

‘Muile lag hardop van blydskap’

Dié kuslyn se skatte met ’n geldwaarde – koper, diamante, perlemoen, kreef (of “rooi spinnekop”, ’n smokkelnaam van kreef) en vetplantspesies – is deurweef met ryke geskiedenis wat oor baie dekades tot rykdom, armoede, konflik en misdaad gelei het.

“A distinctive atmosphere: a hardy character, memories of past things, tough men and forgotten adventures,” beskryf T.V. Bulpin (1918-1999), Suid-Afrikaanse meester van reisverhale en -beskrywings, die Diamantkus in Discovering Southern Africa (1970).

Die eerste kopermyners in die gebied was die Khoi, wat so vroeg soos 1681 goeie kopermonsters aan goewerneur Simon van der Stel in die Kaap getoon het. Van der Stel het in 1685 op ’n ekspedisie vertrek om die “koperberge” te soek. Koper is op verskeie plekke in die Namakwalandse binneland gevind, onder meer by Okiep en Nababeep.

Daar was egter nie ’n manier om die kopererts op ’n ekonomiese wyse na die Kaap, meer as 600 km ver, te vervoer nie en vir byna 200 jaar is hierdie “ontdekking” nie verder ontgin nie.

In die 1850’s was daar ’n kortstondige koperstormloop, maar fortuinsoekers het gou gewyk met die besef dat die koper nie “volop en suiwer” rondlê nie, en dat harde werk en kapitaal nodig is om ’n wins te maak.

Die Cape Copper Mining Company was een van die maatskappye wat volhard het, en teen die 1870’s is die O’Okiep-myn as die rykste kopermyn ter wêreld beskou. Teen 1904 is glo reeds een miljoen ton kopererts uit drie hoofmyne, Nababeep, O’Okiep en Carolusberg, produseer.

Om die kopererts tot by die hawe in Port Nolloth te vervoer, het mynmaatskappye ’n smal spoorlyn van 760 mm tussen dié hawedorp, oor Steinkopf na Okiep en Nababeep gebou. Dit is in Januarie 1876 geopen.

Weens ’n gebrek aan water langs die spoorlyn kon stoomlokomotiewe aanvanklik nie gebruik word nie, en muile is ingespan. Dié muiltreine het kopererts, algemene vrag en passasiers vervoer.

Voer, water en uitgeruste muile is by skofposte langs die roete aangehou. Die tog van 146 km is in twee dae voltooi. Passasiers het die nag in die Klipfontein-hotel aan die bopunt van die Anenouspas deurgebring.

In sy boek Klipfontein bring herinneringe (uitgewer: Steinkopf Bronnesentrum, 2015) skryf J.F. van Wyk: “Dit word vertel dat toe in 1884 die eerste trein met ’n lokomotief aankom, die muile van blydskap hardop gelag het en stert in die lug die veld ingestorm het.”

‘n Oorblyfsel van een die watertenks wat by die Klipfontein-hotel vir die stoomlokomotiewe opgerig is. Stoomlokomotiewe is rondom 1886 heeltyds in gebruik geneem nadat watertenks langs die spoorlyn opgerig is. FOTO: Helena Barnard

Die boorling Klaas Muller was die Klipfontein-hotel se “uitsonderlike” kok, en het sy uitgebreide kennis van Europese geregte en kookstyle met veldkos soos vinkel en wildeuie, asook skaapkop, skilpadsop, rysmiere, korhaan, gompoue en bosduiwe aangevul.

Lawrence G. Green, Suid-Afrikaanse skrywer, het gereeld daar tuisgegaan en het ’n gedeelte van sy boek, When the journey’s over, aan die hotel en sy belewenis daarvan gewy.

Die hotel het selfs bruidskamers en ’n gesonke bad gehad.

Die gebruik van die spoorlyn is in 1942 gestaak, en die grootste dele daarvan is teen 1944 gelig, waarna padvervoer gebruik is.

Reis ’n mens vandag op die pad tussen Port Nolloth, Steinkopf en Okiep, is enkele oorblyfsels van die spoorlyn sigbaar, asook dit wat eens die Klipfontein-hotel en -stasie was.

Hieroor skryf Bulpin: “There are no more Cornish pasties at Klipfontein, no more fresh scones and warm tarts for weary travellers. Perhaps the ghost of Klaas Muller still wanders among the spring flowers watching the ghost train from Port Nolloth steaming out of the old station.”

Oorblyfsels van wat eens die Klipfontein-hotel was – langs die spoorlyn van die kopertrein tussen Nababeep en Port Nolloth. FOTO: Helena Barnard

“A pretty stretch of beach and calm water with the reef visually inviting to the holidaymaker,” skryf Bulpin oor Port Nolloth.

Hy waarsku teen die koue Benguela-stroom – 16 °C maksimum – en wisselende weerstoestande.

In 1854 is Robbebaai deur kapt. M.S. Nolloth as die mees praktiese ligging vir ’n hawe opgemeet, en in 1855 is Port Nolloth na hom genoem.

Nadat die kopermyne weens die gebruik van vragmotors nie meer die Port Nolloth-hawe nodig gehad het nie, het die visbedryf ontstaan, met onder meer drie kreeffabrieke wat op ’n tyd ’n bestaan daar gemaak het.

Die ontdekking van spoeldiamante in 1926 – vanaf Kleinzee in die suide tot by Alexanderbaai by die Oranjeriviermond – het tot Port Nolloth se voortbestaan en die uitbreiding van McDougallsbaai bygedra. Dit was vir baie dekades die enigste vakansiedorp in ’n geen-toegang diamantgebied.

Hondeklipbaai is ook aanvanklik as ’n hawe vir kopererts van die myne rondom Springbok gebruik, van waar die erts per ossewa vervoer is. Die dorp het om ’n handelshuis gegroei wat in 1855 opgerig is.

Weens talle ertsdraende vaartuie wat in die swaar mis in die ontstuimige see gestrand het, of beskadig is, het die Cape Copper Company in die 1870’s ’n spoorlyn tussen Hondeklipbaai en Port Nolloth gebou.

Die wrak van die Aristea, wat in 1945 hier gestrand het, is een van talle in die seegebied, en lê suid van die dorp. ’n Vis-en-kreeffabriek het ook eens hier gepryk.

Die geroeste wrak van die Aristea wat in 1945 by Hondeklipbaai gestrand het. FOTO: Helena Barnard

Kleinzee, aan die mond van die Buffelsrivier, was dekades lank ’n diamantmyndorp van De Beers, en vir toeriste ontoeganklik. Die maatskappy het ’n volledige dorp met parke, skole, sportklubs, ontspanningsale, winkels en meer gevestig, en dit het in sy piektyd glo ongeveer 4 000 inwoners gehuisves.

‘Waarom verlang ’n mens dan heeltyd terug?’

Beplande en voorgestelde ontwikkelinge aan die Noord-Kaapse kusgebied sluit sonplase, windturbines, die produksie van groenwaterstof en die ontginning van olie en gas in.

Die kopermynbedryf is steeds winsgewend, en ontginning van diamante bly nie agterweë nie. Die toerismefront blom, en stel jy in geskiedenis, mensestories en ’n vakansieruimte weg van die hoofstroom belang, sal jy nie teleurgesteld wees nie.

’n Noord-Kaapse binnelander wat ’n huis in Kleinzee gekoop het, vertel sy het lank na ’n eiendom met langtermynopsies, en nie bloot vakansieverblyf nie, gesoek. Sy het wyd gesoek, in verskeie Karoo-dorpe en in talle ander Weskusdorpe.

“In Kleinzee het die gehalte van die huise, huispryse, asook die grootte van die huise en erwe ’n rol gespeel.

“Kleinzee se rustigheid het my bekoor. As ’n mens die eerste oggend daar wakker word, maak dit nie saak of die wind waai nie, en is die grondpad vergete. Die stadiger tempo en die stilte in die aande, waar ’n mens ’n bietjie kan vergeet van al die gekkigheid in die wêreld…”

– Noord-Kaapse binnelander wat eiendom in Kleinzee gekoop het

Sy sê ongeag enkele negatiewe aspekte, soos dele van die grondpad wat sleg kan wees, en die min vars produkte in die algemeen in winkels, was Kleinzee steeds die beste opsie – al is Springbok, die naaste inkopiesentrum, meer as 100 km ver.

“Hier kan ’n mens nie bekostig om vir mekaar kwaad wees nie. Jy weet nooit wanneer jy iemand nodig het om vir jou ’n motorbattery of medisyne vanaf Springbok saam te bring nie,” sê sy.

‘n Ongerepte strandgebied naby Hondeklipbaai. FOTO: Helena Barnard

In die Weg-tydskrif van Junie-Julie 2022 skryf Esma Marnewick in ’n lesersbrief: “Die Kaap met haar berge en wingerde is ’n wonderlike plek om te bly, maar hoekom verlang ’n mens dan heeltyd terug na Hondeklipbaai? Hier’s nie ghrênd Toskaanse strandhuise of byderwetse wafelrestaurante nie. Ook nie ’n vulstasie, OTM of teerpaaie nie.

“Dis byna ses maande sedert ek op Hondeklipbaai was. Tog bly die plek in my kop draal… veral op dae wat die hamsterwieletjie dreig om te ontspoor, dink ek aan Hondeklipbaai.

“Hoe anders lyk ’n dag nie daar nie? Wapper die tannie in die huis oorkant die Hondepondokkies se lakens vanoggend in die wind?”

’n Gautengse ouerpaar en hul twee tienerdogters, wat tydens ‘n Desembervakansie in Hondeklipbaai vakansie gehou het, sê dit was vir hulle ontsettend lekker.

“Die ongereptheid, rustigheid, min mense. Dit was net ons vier; nie soos by ander plekke waar die kinders maats kon maak nie. Ons het werklik gehalte gesinstyd gehad, en tyd gekry om mekaar weer te vind,” vertel die ma.

Die Mosselbaai-omgewing was aanvanklik ’n sterk oorweging as vakansiebestemming, maar die verblyf was omtrent vol bespreek. Toe hoor hulle van vakansiespitstyd aan die suidkus, en dat dit tot twee ure neem om 8 km verder by ’n winkelsentrum uit te kom.

“As Gautengers bestee ons weeksoggende ’n uur tot ’n uur en ’n half werk en skool toe, en in die middae ’n uur terug. Ons het nie kans gesien om in ons vakansietyd spitstyd te beleef nie; of om in ’n tou te staan om kruideniersware te koop nie. Die hele jaar is gejaagd en stresvol. Ons wil dit nie met vakansie beleef nie.”

– Gautengse ma oor waarom hulle in Hondeklipbaai vakansie gehou het

Nog ’n pluspunt, vertel sy, is dat Hondeklipbaai juis nie ’n winkelsentrum het nie.

“Jy beplan dan beter. Indien jy weet daar is ’n sentrum om die draai, bevind jy jouself gereeld daarin om iets noodsaaklik te koop. So gee jy boonop eindelik veel meer geld uit.”

Jeanene Jessnitz, onder meer ’n eiendomsagent en by die toerismegroep Namaqua Coastal Route betrokke, sê die eiendomsmark is lewendig in Kleinzee.

“Voornemende kopers wissel van jong paartjies met klein kinders tot mense na aan aftrede wat van die rotresies wil wegkom.

“Covid-19 het aan ons gewys dat ’n kantoorgebou onnodig is, en baie mense werk aanlyn vanaf die huis. Dit is heerlik om te sien dat nuwe ondernemings in Kleinzee oopmaak, met ekonomiese groei wat plaasvind. Die pre-primêre, junior en twee private skole gedy – ’n aanduiding van jong gesinne met skoolgaande kinders wat hierheen verhuis het.”

Deel van die hawegebied by Port Nolloth. FOTO: Helena Barnard

Volgens Jessnitz is veiligheid, rustigheid en die geleentheid om kinders in ’n omgee- en veilige gemeenskap groot te maak, van die hoofredes waarom mense hier eiendom koop.

“Skoolvakansies en smiddae sien ’n mens kinders op hul fietse in die strate ry, of ’n klomp kinders wat iewers in ’n oop stuk veld sokker speel. Baie van die nuwe inwoners sê hulle is moeg vir misdaad, protesoptrede en om onveilig in hul eie huis te voel ongeag hoë heinings en al wat ’n sekuriteitstoestel is.”

Jessnitz, wat sedert 2015 in die dorp bly, sê die misdaadsyfer is baie laag en iets soos geweldsmisdaad bestaan bykans nie. Die meeste huise het nie diefwering of veiligheidshekke nie, en elektriese heinings is hoogs ongewoon. Kleinzee en sy buurdorp Koingnaas is een van glo twee dorpe in die land wat nooit beurtkrag het nie.

Sy en ander inwoners veroordeel ‘n mediaberig dat “gewelddadige” onwettige delwers glo Kleinzee onder beleg het, en sê dit is jammer dat diegene wat daaroor wil skryf, nie self die dorp besoek nie.

Soek soos ‘n ontdekkingsreisiger van ouds

Die Noord-Kaapse kusgebied sal diegene wat nie die glans van stadsliggies in die oë wil hê nie, voortdurend verras. Moenie ’n tipiese seevakansie soos op ’n tropiese eiland verwag nie, of een soos aan die meer ontwikkelde kusgebiede nie

Moenie verwag dat restaurante jou op drie soorte blaarslaai in ’n groen slaai sal trakteer nie; of met alle soorte gegeurde, geskuimde en geklitse koffies nie. Moet selfs nie altyd kreef of perlemoen op die spyskaart in hierdie kreef- en perlemoenryke gebied verwag nie.

Pak jou eie voorraad, maar ondersteun die restaurante en dink aan die pad wat afgelê is om die kos op jou bord voor te sit. Snuffel rond en vra uit: Jy sal verras word deur unieke winkeltjies, plaaslike kunstenaars en museums.

Doen jou huiswerk deeglik. Moenie aanneem ’n restaurant of winkel gaan oop wees nie. Bel en vind uit.

Vind vooraf uit oor die beste roetes en plekke waar brandstof beskikbaar is.

Die Noord-Kaapse kuslyn is ’n onontdekte diamant. Soek – soos ’n ontdekkingsreisiger van ouds – en jy sal glinsterherinneringe opbou.

Werd om te weet:

  • Die Namaqua Camino het korter staptogte vir diegene wat nie ’n volle tien dae kan of wil stap nie. Bel Ina Vosloo by 072-219-2452 en Elize Kruger by 083-674-5045, of besoek namaquacamino.co.za
  • ’n Skeepswraktoer saam met Dudley Wessels (083-305-2569) neem besoekers deur die Sperrgebiet al langs die kus na verskeie wrakke. Voorafbespreking is noodsaaklik omdat sekuriteitsklaring verkry moet word.
  • Besoek die Kleinzee-museum (in private besit van die Strandveld Conservation Club), wat die geskiedenis van die diamantbedryf, geologie, argeologie, natuur en kultuur uitbeeld.
  • Buffelsriviermond en die kuslyn bied ’n interessante kombinasie van see- en varswatervoëls.
  • Heavisides-dolfyne is volop aan die kus, en walvisse word ook gereeld gesien.
  • Kleinzee het ’n aktiewe hengel- en golfklub.
  • Besoek die webwerf namaquacoastalroute.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article