BLOEMFONTEIN. Net enkele dae ná die moord op ‘n bejaarde man van Pellissier, is ‘n man in Wilgehof Maandag helder oordag met ‘n panga in sy huis aangeval.
Die Parkweg-polisie is op soek na sewe verdagtes, drie vroue en vier mans. Hulle word verdink van huisroof en poging tot moord op ‘n 58-jarige man.
Die slagoffer was Maandag 15 September by sy huis in Ellenbergerstraat 7, toe twee vroue hom glo vir water gevra het. Nadat hy vir hulle water gegee het, het hulle weggegaan en kort daarna teruggekeer met nog ‘n vrou en vier mans en hulle het onregmatig toegang tot sy huis gekry.

Volgens Kareli het die verdagtes die slagoffer met ‘n panga aangeval en sy hande met elekriese koord agter sy rug vasgebind. Hulle het deur die huis gegaan en huishoiudelike items en klere gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.
Kareli sê die polisie het Maandag om 14:40 ‘n oproep uit Wilgehof ontvang waarop hulle gereageer het. Hulle het die slagoffer in die huis gevind met ‘n wond aan sy kop. Paramedici het na hom omgesien en hy is na ‘n hospitaal geneem. Hy is in ‘n stabiele toestand.
Enigiemand met inligting oor die aanval in Wilgehof, word gevra om in verbinding te tree met die polisie by 082 526 2713 of deur die Crime Stop hotline by 08600 10111 te skakel.
Buurtwaglede het Maandagaand ‘n boodskap gestuur om mense te waarsku om nie onbekende mense op hul eiendom toe te laat nie.
Dit kom na die moord op Albertus Opperman (75) wat Vrydag 12 September in sy huis in Pellissier vermoor is.
Geen verdagtes is nog in verband met Opperman se moord in hegtenis geneem nie.
Mike Bolhuis se Specialised Security Services het glo intussen begin om saam met die Parkweg-polisie te soek na die verdagtes in Opperman se moord.






You must be logged in to post a comment.