BLOEMFONTEIN. Die departement van gesondheid in die Vrystaat sê nog geen nuwe gevalle van malaria is aangemeld ná die dood van Albé Grobbelaar (53) van Luckhoff nie.
‘n Multidissiplinêre uitbrekingsreaksiespan van die departement doen opvoeding en bewusmaking, asook aktiewe nasporing, om seker te maak dat geen malaria-gevalle onaangemeld bly nie.
Mondli Mvambi, woordvoerder vir dié departement in die Vrystaat, sê die egpaar Albé en Sorina Grobbelaar se seun Louis (23) is uit die Mediclinic Bloemfontein ontslaan en het veilig tot in Potchefstroom gereis, waar hy studeer.
Hy het bevestig Sorina (50) word steeds in ‘n algemene saal in die Mediclinic Bloemfontein behandel.
‘n Span entomoloë van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) sal die Xhariep-distrik tussen 14 en 17 Oktober besoek om muskiete te kry vir toetsing om te bepaal of daar malaria-muskiete is wat met die saak verbind kan word.
Genotipe-toetse wat gedoen is dui daarop dat die drie lede van die Luckhoff-familie deur dieselfde muskiet gebyt is.
Mvambi sê die publiek wat na malaria-gebiede reis en koors, kouekoors, hoofpyne, lyfseer en griep-simptome ontwikkel, moet sou gou moontlik mediese hulp kry deur na hul naaste kliniek of hospitaal te gaan.
In die algemeen moet lede van die publiek muskietbyte vermy deur insekafweermiddels te gebruik en saans hemde en broeke met lang moue te dra. Mense word ook gemaan om staande water om hul huis, waar muskiete kan uitbroei, te verwyder.
Mvambi sê die departement sal nuwe inligting verskaf sodra dit beskikbaar is en vra dat mense nie onbevestigde nuus op sosialemediaplatforms moet deel nie.




