BLOEMFONTEIN – Bloemfonteinse kortafstand-blitsatleet Rumé Burger (17) het pas die jongste senior Suid-Afrikaanse atleet in die geskiedenis geword wat ‘n professionele kontrak by Nike losgeslaan het.
Rumé is ‘n gr.12-leerling aan die Hoër Meisieskool Oranje.
Sy het die afgelope atletiekseisoen geskitter in die 100m en 200m. Sy het op die Suid-Afrikaanse Senior atletiekkampioenskap die jongste finalis in die 100m geword en ook die jongste nasionale kampioen in die 200m.

Rumé se ma, Marinda, sê die Nike-kontrak maak vir Rumé baie deure oop.
“Nie net borg hulle haar atletiekklere en spykerskoene nie, maar ook haar reiskoste. Dit beteken dat sy na al die buitelandse byeenkomste kan reis,” sê Marinda.
“Rumé droom om sover met atletiek te kom soos wat sy kan. Sy hoop om in 2028 in Los Angeles aan die Olimpiese Spele te kan gaan deelneem.”
Rumé sê die Nike-borgskap beteken vir haar ongelooflik baie. “Dit is ‘n groot eer en motivering en wys dat harde werk en toewyding raakgesien word. Dit het gekom deur konsekwente prestasie en mense wat in my potensiaal glo en daarvoor is ek baie dankbaar.”
Haar afrigter is Olimpiese atleet Elinda Vorster.
LEES OOK: Bloemfontein-blits wen senior wedloop
Die kampioen-bloed loop dik in Rumé se are. Haar pa is die afriger van die Blitsbokke en voormalige Blitsbok en Cheetahs-vleuel Philip Burger en haar oupa Thys Burger het in die jare 1980 vir die Springbokke rugby gespeel.
Vanjaar is haar eerste groot fokus op die Wêreld o.20-kampioenskap in Eugene, Oregon, in Augustus in Amerika.
“My doel is om gesond te bly, myself optimaal voor te berei en Suid-Afrika met trots te gaan verteenwoordig. Ek wil my beste prestasie lewer en my persoonlike beste tye verbeter,” sê sy.
Maar eers is haar mikpunt die naweek se Zone-atletiek in die stad waarmee die atletiek-seisoen vir die jaar open en die Simbine Classic Shootout in Pretoria waar die land se topatlete op die baan teen mekaar meeding.






You must be logged in to post a comment.