Khathutshelo Rasilingwane, die DA se burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni, sê belastingbetalers behoort bekommerd te wees oor die bewerings rondom voormalige stadsbestuurder Imogen Mashazi, omdat openbare hulpbronne veronderstel is om dienslewering te verbeter.
“Elke rand wat op onnodige uitgawes bestee word, is ’n rand wat nie gebruik word om paaie te herstel, waterinfrastruktuur op te gradeer of gemeenskappe van basiese dienste te voorsien nie,” het sy aan Die Papier gesê.
Rasilingwane het saam met ander DA-lede het op 1 Junie strafregtelike klagte van korrupsie teen die voormalige stadsbestuurder van die Ekurhuleni-metro en die IT-maatskappy XET Solutions ingedien.
Rasilingwane beskryf die toestand van dienslewering in Ekurhuleni as swak en sê haar kantoor ontvang gereeld klagte oor wateronderbrekings, vervalle infrastruktuur, slaggate en projekte wat nie voltooi word nie.
“Die stad se infrastruktuur word nie behoorlik onderhou nie en inwoners dra uiteindelik die koste daarvan. Mense moet hul voertuie herstel weens slaggate, terwyl sommige gemeenskappe vir lang tye sonder basiese dienste sit,” het sy gesê.

Die party voer aan dat Mashazi in 2022 ’n privaatvlug na Londen ter waarde van sowat R3,5 miljoen ontvang het wat na bewering deur fondse van XET Solutions gefinansier is, terwyl die maatskappy aktiewe kontrakte met die metro gehad het.
Volgens die beëdigde verklaring verwys die klagtes na moontlike oortredings van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Aktiwiteite, asook munisipale voorskrifte. Die DA versoek dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ondersoek instel na die beweerde verband tussen die Londen-reis, tendertoekennings aan XET Solutions en ander kontrakteurs, asook breër bewerings van onreëlmatighede binne die metro.
Die bewerings vorm tans deel van ’n klagte en ondersoekversoek. Geen van die betrokkenes is aan enige misdade skuldig bevind nie, en die aantygings moet nog deur wetstoepassingsowerhede ondersoek word.
Volgens Rasilingwane dui die saak ook op ’n groter probleem van aanspreeklikheid in plaaslike regering.
“Wanneer mense sien dat amptenare en politici nie aanspreeklik gehou word nie, skep dit die indruk dat enigiets aanvaarbaar is. Dit vestig ’n kultuur waarin korrupsie en onbehoorlike optrede kan floreer,” het sy gesê.
Sy het bygevoeg dat alle bewerings van korrupsie ondersoek moet word, ongeag wie daarby betrokke is. “Niemand behoort bo die reg te wees nie.”







You must be logged in to post a comment.